Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Noodtoestand vir SA?

Die presidensie het vir die eerste keer in 20 jaar regulasies vir ’n noodtoestand begin opstel.

Rapport het die konsepregulasies ingevolge die Wet op Noodtoestande van 1997 onder oë gehad.

Ingevolge dié konsepregulasies het enige veiligheidsbeampte verreikende bevoegdhede om volgens sy of haar persoonlike oordeel op te tree, mense te arresteer, eiendom te deursoek en kommunikasiemiddele soos selfone en die internet af te sny.

Die Grondwet maak voorsiening dat die president ’n noodtoestand kan verklaar wanneer die veiligheid van die nasie bedreig word deur oorlog, inval, opstand, natuurrampe of ’n ander noodsituasie.

Oudpres. PW Botha het op ­25 Julie 1985 so ’n noodtoestand verklaar. Aktiviste is vir onbepaalde tye in onbekende plekke aangehou.

Die bewoording is ‘so wyd soos die Heer se genade’.

Minstens 575 mense is binne die eerste ses maande ná die aankondiging dood.

Die 1997-wet het die berugte apartheidswetgewing oor noodtoestande vervang, maar die regulasies wat moet uiteensit wat tydens ’n noodtoestand sou gebeur, is nog nooit gepromulgeer nie.

Luidens ’n interne memorandum van die weermag het pres. Jacob ­Zuma verlede jaar ’n span saamgestel om dié regulasies op te stel, maar die saak sloer.

Die laaste paar weke is daar vuur gemaak onder die veiligheidsektor om dringend bydraes te maak sodat dit afgehandel kan word.

Adv. Jacob van Garderen, nasionale direkteur van Regslui van Menseregte, het die konsepregulasies gelees en gesê dit is kommerwekkend hoe vaag dit is.

“Dit herinner ’n mens aan die 1980’s waar die apartheidsregering die aankondiging van ’n noodtoestand gebruik het om politieke teenstand te onderdruk.”

Hy sê die regulasies is vaag oor hoeveel magte die verskillende rolspelers soos die weermag en polisie sal hê en hoeveel geweld hulle mag gebruik.

“Dit is amper asof dit ’n kwessie van one size fits all is.”

Die weermag het ná ’n werksessie oor die konsepregulasies besluit om dit te ondersteun en ’n bedryfsplan te ontwikkel.

Siphiwe Dlamini, weermagwoordvoerder, sê hulle is net ’n rolspeler en nie in beheer van die skielike hersieningsproses nie.

Die presidensie het nie op vrae oor die proses gereageer nie.

Luidens die voorlopige regulasies mag geen persoon iets skryf, publiseer of uitsaai of besit wat moontlik ’n bedreiging vir iemand anders of sy familie inhou nie.

Lede van die veiligheidsmagte mag soveel geweld gebruik as wat in die omstandighede nodig geag word om reg en orde te herstel solank dit proporsioneel is.

Van Garderen sê die bewoording is “so wyd soos die Heer se genade”.

“Enige vergadering, selfs al is dit nie in die openbaar nie, kan dus eintlik verbied word.

“Die konteks van die regulasies bekommer my. Burgerlike organisasies het met die xenofobiese geweld ’n paar jaar gelede en met die Marikana-slagting te velde getrek teen hoeveel geweld die polisie toegepas het.

“As dié voorlopige stel regulasies deurgevoer gaan word, voorsien ek dat dit in die howe gaan draai.”

Volgens adv. André Gaum, kommissaris van die Menseregtekommissie, is enige wetgewing en daarom die gepaardgaande regulasies onderworpe aan menseregte wat in die Grondwet verskans is.

Die Grondwet bepaal dat ’n noodtoestand nie vir langer as drie maande mag geld nie, dat die hooggeregshof die president se aankondiging van ’n noodtoestand tersyde kan stel en dat sekere grondwetlike regte soos die reg op waardigheid en lewe nooit opgeskort of ingeperk mag word nie – selfs in ’n noodtoestand.

Meer oor:  Pw Botha  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.