Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Noordwes: ANC grawe eie gat

’n Mens sou dink dat Noordwes danksy sy goud-, uraan-, platinum- en diamantmyne en sy florerende veeplase ’n welvarende plek sou wees. Maar die ANC stuur af op ’n skok by die stembus omdat hy dié provinsie die grond in bestuur het, berig Jacob Rooi.

Betty Diale, EFF-lid in die Noordwes-wetgewer.

Verkiesingskoors styg in Noordwes. Plakkate van die DA en VF Plus sit in trosse aan lamppale – die ANC en EFF is nog nêrens te sien nie.

Dalk is dit omdat die ANC so min het om hier mee te spog: In 2017-’18 kon nie een van die provinsie se 18 munisipale rade ’n skoon oudit kry nie. In Desember is sewe burgemeesters, van wie vier betrokke was by die VBS-bankskandaal, geskors deur die taakspan wat nou die provinsie regeer (die PTT).

In die sakekerns van Rustenburg, Klerksdorp en Mafikeng is die paaie vol slaggate en lê vullis rond. Padmerke is onsigbaar.

In Rustenburg, waar die munisipaliteit tegnies bankrot is en die Valke Dinsdag toegesak het om op lêers en dokumente beslag te lê weens beweerde bedrog van R85 miljoen, kla inwoners oor water en rioolverstoppings.

Talle verkeersligte werk nie.

‘Ek stem nie. Wat baat dit; niks verander nie.’

Toe pres. Cyril Ramaphosa verlede Saterdag die ANC se provinsiale verkiesingsmanifes in Rustenburg bekend gestel het, was die stadion half leeg omdat busse wat ondersteuners moes aanry, skielik nie beskikbaar was nie – en dit is allerweë aan faksiegevegte in die ANC toegeskryf.

Sy vyande in Noordwes hoop dat dié provinsie en drie ander in 2020 kan saamspan om Rama­phosa by die ANC se volgende hoofraadsvergadering as president te herroep.

Die ander drie waar pro-Jacob Zuma-faksies nog sterk staan, is KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Mpumalanga.

Die kombinasie van faksietwiste en swak dienslewering dek die tafel vir ’n moeilike verkiesing vir die ANC.

ANC
Die ANC in Noordwes

Die ANC se eie interne peiling wys hy kan die provinsie net-net op 8 Mei wen ná jare van wanbestuur deur die vorige premier en Zuma-man, Supra Mahumapelo.

Noordwes was lank ’n sterk ANC-vesting met steun in die afgelope drie verkiesings van 82%, 73% en 67%.

Dit lyk of daardie dae verby is: Die ANC se eie interne peiling wys hy kan die provinsie net-net op 8 Mei wen ná jare van wanbestuur deur die vorige premier en Zuma-man, Supra Mahumapelo.

Tussenverkiesingsuitslae wys hoe die ANC verswak, en in 2016 was Noordwes een van die “kern”-ANC-provinsies waar die steun tot onder 60% geval het, het Dawie Scholtz, politieke ontleder, onlangs getwiet.

Hy wys ook op die EFF se vordering in townships. “Die tussenverkiesingsuitslae wys die EFF doen beter as in 2016.”

Die EFF in Noordwes sê dié party het een doel voor oë: om die ANC tot onder 50% te druk.

In Noordwes is nog net DA- en VF Plus-plakkate teen die pale.

Só kan die EFF die kroonmaker word, sê Betty Diale, EFF-lid van die Noordwes-wetgewer.

Die EFF het in 2014 vir die eerste keer aan die verkiesing deelgeneem en veral danksy mynwerkers rondom Marikana 13% van die steun gekry, dieselfde as die DA.

Diale sê die EFF het nou takke in elke wyk. Elke aktiewe tak het ’n verkiesingspan.

Tans het die ANC 23 setels en die opposisie 10. “Ons benodig net sewe setels om die ANC uit die kussings te lig.”

Die plan is om met die ANC of ander partye saam te werk wat sal toelaat dat die EFF die provinsie regeer, dus met ’n EFF-premier.

                                                                 ***

Frans Rootman van die munisipale waghondorganisasie Munsolve sê dienslewering gaan ’n impak móét hê op 8 Mei: “Ek glo wat op plaaslike vlak gebeur, gaan vir seker ’n invloed hê op hoe mense gaan stem. Dis die blootstelling wat die kieser het.”

Nie net op plaaslike regeringsvlak stort dinge in duie nie.

Ook geen van die provinsiale staatsdepartemente kon die laaste paar jaar ’n skoon oudit kry nie.

Die nasionale regering het daarom in Mei verlede jaar kragtens art. 100 van die Grondwet ingegryp en Noordwes onder algehele administrasie geplaas.

Die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) is ook ontbind en die PTT is aangewys.

Mahumapelo het drie weke gelede nog teruggeveg in ’n poging om die ou PUK met hom as voorsitter terug te kry. Hy en drie ander PUK-lede was twee keer suksesvol in die hof.

Intussen is ’n politieke oplossing egter beding en het die ANC sy planne om te appelleer laat vaar.

Mahumapelo is nou ’n gewone lid van die PTT, sê Dakota Legote, waarnemende ANC-woordvoerder.

Die oudpremier sê hy het met die nasionale leiers ooreengekom om nie sy mening in die media uit te spreek nie – “nie dat ek nie menings het nie”.

Puseletso Molise, provinsiale koördineerder van die vakbond Saftu, sê die vakbond gaan nie vir werkers voorsê vir wie om te stem nie. Saftu is onafhanklik; sy belange lê by die werkers. “Saftu sal egter diegene steun wat ons taal praat.” En dit lyk na die EFF.

’n Ouerige man in Zeerust wat gevra is vir wie hy gaan stem, het geïrriteerd sy skouers opgehaal: “Ek stem nie. Wat baat dit; niks verander nie.”

By Marikana het ’n middeljarige man gesê hy stem ANC. “Dis soos jou steun vir Kaizer Chiefs of Orlando Pirates. Al verloor hulle, jy bly jou span ondersteun.”

Joe McGluwa, DA-leier in Noordwes, sê: “Ons sal die mense van Noordwes laat besluit en dit van daar neem.”

Hy sê koalisieregerings is die toekoms. Die DA is bereid om met enige party saam te werk wat sy waardes van goeie regering deel.

Mahumapelo sê die opposisie kan maar wens. “Die ANC sal die provinsie behou oor massiewe kollektiewe mobilisering in die provinsie.”

Meer oor:  Verkiesing 2019  |  Noordwes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.