Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Noordwes se premier veroordeel plaasmoorde

Dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, het plaasmoorde- en aanvalle Donderdag ten sterkste veroordeel en gesê dis “onaanvaarbaar en betreurenswaardig”.

Hy het in die provinsiale wetgewer in Mmabatho gereageer op kritiek van De Wet Nel, VF Plus-lid in die Noordwes-wetgewer, dat die premier in sy provinsiale rede verlede week nie spesifiek na plaasmoorde en -aanvalle verwys het toe hy oor die stryd teen misdaad gepraat het nie.

Dr. Job Mokgoro, Noordwes se premierFoto: Susan Cilliers

Nel het die premier se uitsprake teen plaasmoorde geloof en gesê dis ’n oorwinning vir die VF Plus in sy stryd dat die regering hom teen plaasmoorde en -aanvalle uitspreek. “Dit was veral lekker toe die premier my in sy toespraak spesifiek bedank het vir die VF Plus se konstruktiewe kritiek en voorstelle vir oplossings.”

Mokgoro het Donderdag in sy toespraak gereageer op die debat oor sy provinsiale rede. Vuyisile Ngesi, sy woordvoerder, het bevestig dat Mokgoro onder meer verwys het na die onaanvaarbaarheid van plaasmoorde en -aanvalle.

“Hy sê die regering sal ten nouste met die polisie saamwerk om landelike beveiligingstrategieë op te stel en sal help toesien dat dit suksesvol geïmplementeer word. Hy wil hierdie misdrywe teen boere en werkers stopsit en landelike gemeenskappe beveilig.”

Mokgoro het ook beloof om gereeld terugvoering oor die vordering hiermee in die wetgewer te gee.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê in ’n mediaverklaring dis ironies dat Mokgoro en David Makhura, Gauteng se premier, bereid is om die erns van plaasmoorde te erken en oplossings daarvoor aan die hand te doen, terwyl pres. Cyril Ramaphosa “dit steeds ignoreer en selfs voor die wêreld ontken”.

Makhura het volgens Groenewald in sy provinsiale openingsrede gesê plaasaanvalle en -moorde moet prioriteitsaandag in dié provinsie geniet en ’n spesialiseenheid sal die taak opgelê word om dié tipe misdaad te bekamp.

“Die VF Plus bepleit lank reeds die voorstelle wat die premiers aan die hand doen, naamlik om ’n beveiligingstrategie met al die rolspelers te bespreek, in besonder die polisie en boere self, en om so gou doenlik ’n praktiese en werkbare plan op die tafel te plaas en tot uitvoering te bring.”

Groenewald sê die VF Plus verwelkom uitsprake soos dié van senior ANC-politici soos Makhura en Mokgoro.

“Noordwes is die provinsie met die hoogste voorkoms van plaasaanvalle in die land, terwyl Gauteng self swaar daaronder gebuk gaan. Die VF Plus is daarom bereid om saam met die premiers te werk in enige opregte poging om plaasaanvalle en ander misdaad te bekamp.”

Meer oor:  Noordwes  |  Veroordeel  |  Plaasaanvalle  |  Premier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.