Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nou is die messe uit vir Zuma

Terwyl die messe in die ANC se topleierskorps vir pres. Jacob ­Zuma geslyp word, het Cyril ­Ramaphosa Saterdag ’n beslissende wegbreek van die Zuma-era van “korrupsie en staatskaping” aangekondig terwyl Zuma met ’n star blik reg agter hom op die verhoog gesit het.

Anders as die tien toesprake wat Zuma sedert 2007 gemaak het om die ANC se totstandkoming op 8 Januarie 1912 te gedenk, het Ramaphosa se eerste gedenkrede in Oos-Londen Saterdag stiptelik om 11:00 begin.

Ook die gebruiklike gebede, wat gereël was om 10:00 te begin, het presies om 10:00 begin.

Zuma is Saterdag altesame vyf keer uitgejou: toe hy 45 minute laat opgedaag het; toe sy aankoms aangekondig is; toe Ramaphosa hom erkenning gegee het aan die begin van sy toespraak; en twee maal toe Ramaphosa op ’n gunstige manier na hom verwys het. Ramaphosa moes ingryp en het die skare gemaan om die dag as ’n “viering” te beskou.

In die skare het handgebare gewys ook húlle glo Zuma se tyd as president is verby.

Zuma se presidentskap, wat tot ’n gespanne twee sentrums van mag in die ANC lei – een sentrum in die Uniegebou (Zuma), een in Luthuli-huis (Ramaphosa) – sal op die agenda wees van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) se eerste gewone vergadering vir die jaar, verneem Rapport en City Press by onberispelike bronne.

Dít kom nadat die NUK laat Dinsdagaand besluit het om nie deur te druk met die verwydering van Zuma as president voor gister se verjaardagvieringe nie, berig City Press.

Tjorts! Gwede Mantashe, Ace Magashule, Jessie Duarte, Cyril Ramaphosa, pres. Jacob Zuma en pres. Uhuru Kenyatta van Kenia.Foto: leon sadiki

Zuma se aankondiging dat adjunk-regterpresident Raymond Zondo die voorgenome kommissie van ondersoek na staatskaping sal lei, het volgens bronne die wind uit die seile van Zuma se groter wordende groep teenstanders in die NUK gehaal.

“Die siening was dat dit (die verwydering van Zuma) gesien sou word as opportunisties van Cyril, en dat daar geen manier was om te weet hoe Zuma se ondersteuners sou reageer nie,” het ’n NUK-bron aan City Press gesê.

Die feit dat Zuma steeds volhard met sy appèl teen die uitspraak oor die herinstelling van korrupsieklagtes teen hom al gaan die kommissie van ondersoek voort, dui daarop dat hy “speel vir tyd” en hoop dat die debat oor sy verwydering momentum sal verloor.

Zuma-lojaliste glo hoe langer dit neem om Zuma uit die Uniegeboue te verwyder, hoe swakker laat dit die ANC se nuwe president lyk.

Oor die aankondiging oor Zondo het Ramaphosa gesê die kommissie se opdrag moet hou by dit wat bepaal is deur adv. Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer (OB). Daar is elemente in die ANC en die kantoor van die OB wat die opdrag van die kommissie wil verruim, wat vrese vir oponthoude laat toeneem het.

Ramaphosa het gister aan die 50 000 ANC-ondersteuners in die Absa-stadion benadruk die vervolging van staatskapers en korruptes sal die hoogste voorrang geniet.

Hy het gesê die ANC moet die integriteit en geloofwaardigheid van die party herstel en alle Suid-Afrikaners, ongeag ras, geslag of partypolitiekeverband, rondom ’n gedeelde visie van “grondliggende transformasie” verenig.

Agter die skerms is egter gefluister of hy ook terwyl Zuma nog president is daarop sal aandring dat die Zuma-kabinet geskommel word, berig City Press. As Ramaphosa sy sin kry, kan Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne, en Faith Muthambi, minister van staatsdiens en administrasie, die trekpas kry.

Ook David Mahlobo, minister van energie, en Bongani Bongo, minister van staatsveiligheid, kan uitgedwing word. “Of Zuma bedank of nie, moet daar konsensus kom oor ’n onmiddellike ingryping om te wys die ANC is ernstig oor ’n keerpunt, deur dooie hout te verwyder en mense wat openlik beskou word as korrup,” het iemand in die Ramaphosa-binnekring gesê.

Die enigste aanduiding in Ramaphosa se toespraak van moontlike kabinetskuiwe was toe hy gaste verwelkom het, waaronder “ministers in pres. Zuma se kabinet”.

Cosatu, wat Ramaphosa se kandidatuur as ANC-president gesteun het, gaan na verwagting ’n lys met eise vir kabinetskuiwe voorlê, wat Ramaphosa ’n verskoning kan gee om op te tree.

Nog ’n aanduiding van hoe die gety draai is dat ANC-leiers van KwaZulu-Natal en die Vrystaat, wie se provinsiale strukture laas jaar in hofuitsprake ontbind is, gevra is om die afgelope week se NUK-vergadering te verlaat en buite te gaan sit.

By sy komende vergadering sal die NUK ook na verwagting beraadslaag oor of Zuma die staatsrede op 8 Februarie moet lewer.

Volgens ’n bron is “daar nou geen twyfel dat Ramaphosa die meerderheidsteun in die NUK het nie”.

Nog ’n bron het gesê daar is tans drie groeperings in die NUK.

Groep een, waaraan Ace Magashule, sekretaris-generaal, behoort, glo Zuma moet nog aanbly.

Die tweede groep voel Zuma kan toegelaat word om die staatsrede te lewer mits hy ’n vaste onderneming gee om einde Maart te bedank.

“Die derde groep meen hy behoort dadelik sy pos te neer te lê.”

Die magsewewig behoort hierdie week duideliker te word.

Ná die tweedaagse NUK-vergadering wat Donderdag begin, word nog ’n NUK-lekgotla direk daarna oor twee dae gehou.

Ramaphosa het baie op eenheid in die party gehamer, maar het gister ook enkele ander voorkeure aangesny:

* Die ANC-konferensiebesluit om grond sonder vergoeding te onteien, gaan aangepak word in ooreenstemming met die vereistes van die Grondwet vir regstelling, en op ’n manier wat ekonomiese ontwikkeling, landbouproduksie en voedselsekerheid bevorder.

* Dringende en doelgerigte stappe om die land se bankrot staatsondernemings reg te ruk.

* Beter meganismes om die regte individue in senior poste in die staatsdiens aan te stel.

* Die ontwikkeling van ’n bekostigbare en volhoubare finansieringsmodel vir gratis hoër onderrig aan arm, werkersklas- en middelklas- studente.

Meer oor:  Ramaphosa  |  Cyril  |  Jacob Zuma  |  President  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.