Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nou is dit NDOV teen OB

Adv. Shamila Batohi, die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), gaan haar tot die hof wend om te voorkom dat adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), inbreuk maak op die grondwetlike onafhanklikheid van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Adv. Shamila Batohi. Foto: DAILY SUN

Dít blyk uit Batohi se reaksie aan Ronald Lamola, die minister van justisie, in antwoord op ’n parlementêre vraag deur Glynnis Breytenbach, DA-LP.

Breytenbach wou weet of Batohi voornemens is om die onafhanklikheid van die NVG te verdedig in die hersieningsaansoek teen Mkhwebane se Bosasa-verslag waarin sy die NVG opdrag gee om verdere ondersoek te doen na “prima facie-getuienis van geldwassery” wat aan die lig gekom het gedurende haar ondersoek.

Mkhwebane het in haar verslag bevind dat pres. Cyril Ramaphosa die parlement mislei het rondom ’n R500 000-skenking vir sy CR17-veldtog van die omstrede dienstemaatskappy Bosasa.

Sy het nie net bevind dat hy die etiese kode vir die uitvoerende gesag oortree het nie, maar het ook aanbeveel dat Ramaphosa en lede van sy veldtog ondersoek moet word vir moontlike geldwassery.

Die OB het ook aanbeveel dat die NDOV ’n implementeringsplan vir goedkeuring deur haar binne 30 dae van die publikasie van die verslag moet indien.

Ramaphosa het die OB se verslag op hersiening geneem.

Lamola dui in sy geskrewe antwoord aan dat Batohi hom ingelig het dat die OB ingestem het om die aanbevelings in haar verslag op te skort hangende die hersiening van die verslag.

Batohi het in die gees van samewerkende regering aan die OB geskryf om duidelikheid te kry oor of haar opdragte bedoel was om die NDOV in kennis te stel van haar mening dat die feite neerkom op die pleeg van ’n oortreding.

Die NDOV verstaan dié reaksie beteken dus dat die OB volhard met die opdragte.

Die OB het in reaksie gesê dat haar opdrag ’n verwysing aan die NDOV was op grond van haar mening dat die feite neerkom op die pleeg van ’n oortreding en dat haar opdrag aan die NDOV om ’n verslag in te dien vir haar goedkeuring ’n “logiese en wettige” gevolg van haar verslag is.

“Die NDOV verstaan dié reaksie beteken dus dat die OB volhard met die opdragte,” het Lamola gesê.

“Dié opdragte het ’n impak op en skend die grondwetlike en statutêre mandaat van die NVG om ondersoeke en vervolgings van misdaad sonder toesighouding of inmenging deur ’n ander party en sonder vrees of gunste uit te voer.

“Die mandaat van die OB teenoor dié van ’n NDOV ingevolge die Grondwet en die Wet op die Openbare Beskermer is beperk om die owerheid wat gemoeid is met vervolgings in te lig van sy of haar mening dat die feite neerkom op die pleeg van ’n oortreding.”

Dit is dus ’n grondwetlike kwessie wat die NDOV – in belang van die onafhanklikheid van die NVG – opgeklaar wil hê.

Batohi het beklemtoon dat dié kwessie ’n “suiwer wetlike” een is en nie op enige manier ’n impak het op haar oorweging van die kwessie in die lig van die OB se mening dat die feite neerkom op die pleeg van ’n oortreding nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.