Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nou swaai Gwede om

Gwede Mantashe, ANC-voorsitter, sê nou hy glo bloot dat daar ’n perk op grondbesit geplaas moet word – hy is glad nie verbind tot 12 000 ha per grondeienaar nie.

Gwede Mantashe

Mantashe, minister van minerale bronne, se ommeswaai volg nadat hy Woensdag aan News24 gesê het die manier waarop grondonteiening sonder vergoeding in die praktyk neerslag vind, sal wees deur ’n perk van 12 000 ha per grondeienaar vas te stel.

“Enige wit boer wat meer grond as dit besit, moet dit dan aan die staat oordra,” het hy gesê.

Sy uitlatings is met skok en ongeloof begroet, waaronder deur mense wat geen idee het hoe groot 12 000 ha is nie. Slegs sowat 0,22% van plase is groter as 12 000 ha, het dr. Johann Bornman, wat tot dusver verreweg die volledigste oudit van eienaarskap van die land se landbougrond gedoen het, aan Business Insider gesê.

“Om so ’n plaas op te spoor, is om ’n naald in ’n hooimied te probeer vind. En as jy hom kry, gaan dit ’n stuk grond wees waarop daar nie eens ’n springhaas of ’n meerkat is nie, want dis iewers op die vlaktes van die dorre Noord-Kaap,” het Bornman gesê.

Minister erken hy was onbewus van komende wetgewing oor eienaarskap van grond

Boonop is daar reeds konsepwetgewing na die parlement op pad wat die regering magtig om in elke distrik afsonderlik ’n perk in te stel op hoeveel landbougrond ’n individu mag besit. Die klimaat, dravermoë, wisseling in grondgehalte en ’n reeks ander landbou-ekonomiese faktore moet in ag geneem word voordat ’n perk ingestel word.

En Mantashe erken ruiterlik teenoor Rapport dat hy heeltemal onbewus is van die komende wetgewing, die konsepwet op die regulering van landbou-grondeienaarskap wat in Maart verlede jaar gepubliseer is en wat waarskynlik teen Maart aanstaande jaar vir goedkeuring aan die parlement voorgelê sal word. Hy was weliswaar nog nie in die kabinet toe die konsepwet daar voorgelê en bespreek is nie, maar was destyds sekretaris-generaal van die ANC, wat besonder sterk leisels oor ministers en die werk in die kabinet vasgehou het.

“Die 12 000 ha is maar net ’n syfer wat ek as voorbeeld noem uit die debat wat ’n paar jaar gelede hieroor gewoed het. Miskien moet die perk van 12 000 ha net in die Noord-Kaap geld en ’n ander perk van sê maar 6 000 ha in Mpumalanga,” het hy gesê en effens verleë gelag.

“Maar as die konsepwet wat reeds parlement toe kom, afsonderlike perke vir elke distrik voorstel, dan stem ek 100% daarmee saam. Dis wat ek wil hê,” sê hy gister.

Die debat ’n paar jaar gelede het gespruit uit ’n aankondiging wat oudpres. Jacob Zuma in 2015 in sy openingstoespraak in die parlement gedoen het dat konsepwetgewing opgestel word om buitelandse grondbesit in Suid-Afrika te verbied – en dat ’n perk op grondeienaarskap ingestel moet word.

Dit het uitgeloop op die konsepwet op regulering van landbou-grondeienaarskap.

Zizi Kodwa, wat in beheer is van pres. Cyril Ramaphosa se kantoor in Luthuli-huis, sê om verwarring uit te skakel weens uiteenlopende uitsprake oor onteiening en grondhervorming, moet ’n mens weer gaan kyk na die besluit daaroor wat die ANC op sy Nasrec-konferensie in Desember aanvaar het.

“Die besluit sê uitdruklik dat wetgewing aanvaar moet word wat dit duidelik maak onder watter omstandighede grond sonder vergoeding onteien mag word en wat die redes is waarvoor grond sonder vergoeding onteien mag word.

“In die debat oor hierdie resolusie is daar intens en uitdruklik uitgespel dat sommige groepe in die land grondonteiening vir hul eie doeleindes gaan misbruik – wat gaan verkondig dat die ANC mense se woonerwe en hul huise wil vat. En dat ons in die ANC stappe sal moet doen om te keer dat hulle met hierdie propaganda slaag,” het Kodwa gesê. “Dis vir my duidelik dat daardie groepe nou die debat polariseer en dit in iets vulgêrs laat ontaard.”

Dit is ’n debat wat onlosmaaklik gekoppel word aan beleggings deur Suid-Afrikaners self en deur buitelanders in die land.

“As die debat die verkeerde loop neem, gaan ons beleggers afskrik, maar as ons niks doen om die verwronge patrone van grondeienaarskap reg te stel nie, gaan ons ook beleggers afskrik en ons toekoms in gevaar stel,” sê Kodwa.

Hy ontken ten sterkste dat die ANC se nasionale uitvoernde komitee op sy lekgotla verlede maand hoegenaamd enige lys van plase ontvang het wat oorweeg word vir onteiening sonder vergoeding of hoegenaamd so ’n lys bespreek het.

“Daar is nie so iets nie. Ons as ’n politieke party praat net oor die breë beginsels hiervan – nie oor die fyner besonderhede nie.

“Daar bestaan nie so iets soos ’n lys plase wat sonder vergoeding onteien gaan word nie,” het hy gesê.

Meer oor:  Gwede ­Mantashe  |  Onteiening  |  Grond  |  Afriforum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.