Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nou wink R100 mjd. se beleggings in krag

Regstelling: Hierdie berig het vroeër gestel dat Patrice Motsepe, volgens Piet Croucamp, met pres. Cyril Ramaphosa gaan praat het oor die lisensiëring van private kragopwekking. Motsepe het Rapport sedertdien ingelig dat hy nie teenwoordig was by so ‘n vergadering nie. Rapport vra om verskoning.

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die drempel vir die lisensiëring van private kragopwekkingsprojekte van 1 MW tot 100 MW verhoog gaan word, kan volgens kenners in die volgende vyf tot sewe jaar tot beleggings van sowat R100 miljard in private kragopwekking lei – en weldra ’n einde aan beurtkrag maak.

Sakelui het gevra vir ’n verhoging van die drempel tot 50 MW, terwyl Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, vasgeskop het by 10 MW.

Mantashe het op 18 Mei in sy begrotingspos in die parlement selfs gesê die regering se navorsing en peilings onder 10 000 mense het gewys dat die mark nie gereed is vir ’n drempel van 50 MW nie en dat daar “oorweldigende steun” vir ’n drempel van 10 MW is.

Dit sou later blyk die regering het nooit so ’n peiling gedoen nie en dat Mantashe besluit het om insette wat verteenwoordigend is van duisende sakeondernemings eerder te ignoreer.

Dit het alles irrelevant geword toe Ramaphosa Donderdag onverwags aankondig die drempel word honderdvoudig verhoog.

‘Myngroepe was by die Uniegebou.’

Volgens dr. Piet Croucamp, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, het Ramaphosa die besluit geneem weens toenemende druk deur sakelui om die drempel tot minstens 50 MW te verhoog.

“Daar was verskeie gesprekke,” sê Croucamp. “Veral die laaste twee na drie weke het Sake-eenheid Suid-Afrika en myngroepe met Ramaphosa by die Uniegebou gaan praat.”

Dié stap kan volgens Peter Attard Montalto, Intellidex se hoof van kapitaalmarkbeleggings, 15 000 MW se nuwe opwekkingsvermoë lok. Dit is ruweg gelykstaande aan ’n derde van Eskom se opwekkingsvermoë en gelykstaande aan dié deel van Eskom se vloot wat die afgelope week buite werking was.

Nuwe, private kragstasies wat kragtens die nuwe bedeling opgerig kan word, kan in die volgende vyf tot sewe jaar ’n direkte belegging van sowat R100 miljard vir die land beteken, sê Montalto.

Dit sal nog sowat twee jaar neem voordat nuwe private vermoë in bedryf gestel kan word. In dié twee jaar sal beurtkrag na verwagting verder vererger, waarsku Montalto.

Suid-Afrikaners het die afgelope twee weke behoorlik deurgeloop onder beurtkrag, wat Woensdag tot fase 4 verhoog is.

Gemiddeld meer as 24% van Eskom se opwekkingseenhede was sover vanjaar buite werking weens onvoorsiene probleme, het Rapport verlede Sondag berig. Dit is ’n skerp toename teenoor die gemiddelde van 20,88% verlede jaar en ’n aanduiding dat Eskom sukkel om dié afwaartse tendens ongedaan te maak.

Eskom kry weinig instandhoudingswerk gedoen weens druk om die ligte aan te hou en het verlede week aan Rapport bevestig dat net een eenheid se “betroubaarheidsinstandhouding” al vanjaar voltooi is.

Nog 35 eenhede moet in die tweede helfte van die jaar aan die beurt kom. Die kragreus hoop om vandeesmaand nog ses eenhede uit bedryf te stel vir dié instandhouding. Die energiekenner Chris Yelland het voorspel dat dit tot fase 4- en fase 5-beurtkrag kan lei.

Op middeltermyn lyk sake heelwat beter ná Ramaphosa se aankondiging.

Tot dusver moes private kragverskaffers ’n lisensie by die energiereguleerder Nersa kry vir alle opwekkingsprojekte groter as 1 MW. Dit is ’n duur en langsame proses en het baie beleggers afgeskrik.

Volgens Ramaphosa sal die wysiging aan die Wet op Elektrisiteitsregulering wat die drempel tot 100 MW verhoog binne die volgende 60 dae in die Staatskoerant afgekondig word, waarna dit in werking tree.

’n Kragstasie wat 100 MW opwek, kan krag verskaf aan sowat 250 000 huishoudings. Die nuwe drempel maak voorsiening vir die soort projekte wat myne en groot gebruikers benodig.

Die myngroep Goldfields het onlangs kragtens die ou reëls ’n lisensie gekry vir ’n projek van 40 MW, wat sowat 22% van die krag sal verskaf wat hy benodig.

Die res sal Goldfields steeds by Eskom koop.

Nersa het in ’n verklaring gesê hy wag vir die Staatskoerant-afkondiging voordat die nuwe reëling in werking gestel word.

Private opwekkers sal steeds by Nersa moet registreer en aan talle vereistes moet voldoen soos omgewingsgoedkeuring en voldoening aan die tegniese netwerkkode.

Montalto wys daarop dat Eskom die risiko loop van laer kragverkope – juis waaroor Mantashe bekommerd was – omdat al hoe meer van sy eindverbruikers alternatiewe kragverskaffers kan begin gebruik.

Daarom moet die permanente uitdiensstelling van Eskom se ou kragstasies versnel word en die regering opskud met maatreëls om Eskom se skuldlas te verminder, aldus Montalto.

Eskom se verdeling in drie dele – opwekking, transmissie en verspreiding – het reeds ver gevorder en behoort teen die einde van die jaar afgehandel te wees.

Montalto vra ook dat die transmissievleuel heeltemal onafhanklik van Eskom bedryf word om ’n werklik vrye energiemark daar te stel. Só ’n mark sal krag van verskeie kragopwekkers, waaronder Eskom, koop teen mededingende pryse en tot voordeel van die verbruiker.

Rapport het verneem dat dié transmissiemaatskappy moontlik as ’n nuwe staatsonderneming in die departement van minerale bronne en energie gesetel sal wees, pleks van in die departement van openbare ondernemings, soos Eskom. Amptenare werk glo reeds aan wetswysigings wat dit moontlik sal maak.

Montalto het die feit dat Ramaphosa met dié aankondiging die leisels uit Mantashe se hande geneem het, beskryf as uiters betekenisvol en as ’n oorwinning vir operasie Vulindlela, waardeur Ramaphosa administratiewe struikelblokke uit die weg probeer ruim.

Die politieke ontleder Theo Venter meen die kragaankondiging, gesien saam met die verkoop van ’n meerderheidsaandeel in die Suid-Afrikaanse Lugdiens, dui op ’n grondliggende verskuiwing in die ANC. Hy verwag nog sulke aankondigings van Ramaphosa, moontlik tydens dié se bywoning van die G7-beraad in Brittanje dié naweek.

Meer oor:  Piet Croucamp  |  Gwede Mantashe  |  Elektrisiteit  |  Eskom  |  Kragopwekking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.