Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nou’s dit Carl Niehaus teen Kebby

’n Volslae chaos heers in die ANC se radikale ekonomiese transformasie (RET)- kamp, wat baklei om van pres. Cyril Ramaphosa ontslae te raak.

Carl Niehaus

Terwyl die ANC se nasionale werkkomitee (NWK) oorweeg om hierdie week vir Ace Magashule en Tony Yengeni finaal uit die ANC te skors, het die oorblywende bondgenote van Magashule in die ontbinde Umkhonto we Sizwe-militêre-veterane-vereniging (MKMVA) nou teen mekaar gedraai.

’n Opname van ’n foonoproep is aan Rapport gelek waarin Carl Niehaus inklim onder Kebby Maphatsoe, MKMVA-leier, omdat laasgenoemde die ANC se besluit gesteun het om die MKMVA te ontbind.

Volgens Niehaus is dit verraad.

In die opname kan gehoor word hoe Niehaus vir Dumisani Mahlinza, ’n MKMVA-leier in KwaZulu-Natal, bel en kla oor ’n vergadering waarin Maphatsoe glo teenoor ondersteuners erken het dat hy ingestem het tot die ontbinding van die MKMVA – ’n pro-Magashule-struktuur.

Verlede maand nog het Maphatsoe die ANC se topses met litigasie gedreig as hulle sou voortgaan met planne om die MKMVA te likwideer.

“Hoekom doen Kebby dit?” vra Mahlinza vir Niehaus.

“Ek weet nie. Hy sê dat hy geen ander keuse gehad het nie, anders sou die ANC hom geskors of uitgeskop het, en hy (sê hy) kan nie sy werk verloor nie,” verduidelik Niehaus.

Uit die gesprek:
“Dit is onaanvaarbaar. Heeltemal onaanvaarbaar. Dis nonsens,” tier Mahlinza.
“Dit is absolute nonsens!” beaam Niehaus.
Mahlinza vra dan wat moet word van oudpres. Zuma, waarop Niehaus antwoord dat hulle, die sogenaamde veterane, die enigste struktuur is wat Zuma kan verdedig.
“En dan gaan en gooi hulle ons onder die bus. Vir hulle persoonlike oorlewing,” voeg Niehaus by.
“So, dit beteken hierdie persoon (Maphatsoe) was nooit ’n revolusionêre persoon nie?” vra Mahlinza.
Niehaus dink na, en antwoord dan dat Maphatsoe selfgesentreerd is.

Maphatsoe is ’n LP wat onder meer dien op die portefeuljekomitee oor polisie.

“Dit is onaanvaarbaar. Heeltemal onaanvaarbaar. Dis nonsens,” tier Mahlinza.

“Dit is absolute nonsens!” beaam Niehaus.

Mahlinza vra dan wat moet word van oudpres. Zuma, waarop Niehaus antwoord dat hulle, die sogenaamde veterane, die enigste struktuur is wat Zuma kan verdedig.

“En dan gaan en gooi hulle ons onder die bus. Vir hulle persoonlike oorlewing,” voeg Niehaus by.

“So, dit beteken hierdie persoon (Maphatsoe) was nooit ’n revolusionêre persoon nie?” vra Mahlinza.

Niehaus dink na, en antwoord dan dat Maphatsoe selfgesentreerd is.

Die twee kom dan ooreen dat Maphatsoe uit die MKMVA geskop moet word, wat regtens nie meer as ’n ANC-struktuur bestaan nie, en dat hulle moet vergader om verdere stappe te beplan.

Niehaus, wat in die ANC se Luthuli­-huis-hoofkantoor saam met Magashule gewerk het, en Maphatsoe was twee van Magashule se mees uitgesproke ondersteuners.

Hul vriendskap is klaarblyklik verby.

Niehaus het by navraag gesê hy reageer nie op private telefoongesprekke nie en dat die gesprek “onwettig” opgeneem is.

Volgens Niehaus sal verdere inligting verskaf word ná vergaderings van die ontbinde MKMVA se nasionale werkkomitee, wat die naweek plaasgevind het.

Maphatsoe het nie op navrae gereageer nie.

Nadat Niehaus onlangs uit die ANC geskors is, het hy die #FreeJacobZuma-veldtog begin.

Hulle eis dat Zuma vrygelaat word, die nasionalisering van die Reserwebank, myne en strategiese nywerhede, asook die stig van ’n staatsbank, onteiening sonder vergoeding en ’n einde aan die “houvas” van witmonopoliekapitaal.

Niehaus en ander ondersteuners van Magashule, wie se skorsing as sekretaris-generaal van die ANC voorverlede week in die hof bekragtig is, veg om politieke oorlewing, net soos Magashule self.

Rapport verstaan dat die NWK Maandag beraadslag oor verdere dissiplinêre stappe teen die RET-leiers.

Dit volg nadat Magashule in weerwil van inperkingsregulasies op 4 Julie ’n skare toegespreek het by Nkandla, kort voordat Zuma op 7 Julie tronk toe is weens minagting van die konstitusionele hof.

Magashule is in Mei vanjaar geskors omdat hy teregstaan op 70 klagte van onder meer bedrog, korrupsie en geldwassery.

Sy skorsingsbrief het bepaal hy mag geen ampspligte uitvoer, die ANC in die openbaar verteenwoordig, of enigeen teen die party opsweep nie.

Volgens Rapport se bron, wat Ramaphosa goedgesind is, sal die NWK dit Maandag oorweeg om stappe aan te beveel wat tot Magashule se permanente skorsing uit die party kan lei omdat hy die voorwaardes van sy skorsing by Nkandla oortree het.

Benewens Magashule sal die NWK na bewering dit ook oorweeg om Yengeni, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), te skors nadat hy ook Covid-19-regulasies by Nkandla oortree het deur ’n skare toe te spreek.

Niehaus en Andile Lungisa, oud-raadslid in die Nelson Mandelabaai-metro, is ook reeds tydelik uit die ANC geskors.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.