Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ntombela en DG ‘wis niks’ van ‘Ace se geld vir ATM’
Apostel Buyisile Ngqulwana sit in sy beëdigde verklaring in antwoord op ’n lastereis van Ace Magashule laasgenoemde se betrokkenheid by die stigting van die African Transformation Foundation uiteen. Foto: Argief

Kopung Ralikontsane, direkteur-generaal van die Vrystaatse provinsiale regering, ontken bewerings dat hy R141 000 namens Ace Magashule, voormalige premier, in ’n bankrekening inbetaal het om te help met die stigting van ’n politieke party.

Rapport het Sondag berig dat apostel Buyisile Ngqulwana, voormalige sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Messiaanse Kerke, hierdie bewerings maak in ’n beëdigde verklaring. Dié verklaring is in antwoord op Magashule se lastereis teen hom nadat hy Magashule by die stigting van die politieke party die African Transformation Movement (ATM) betrek het.

Rapport berig ook dat ’n interne kommissie van die ANC reeds besig is met ondersoeke na bewerings dat senior ANC-lede verraad gepleeg het deur by die stigting van ’n reeks klein politieke partye betrokke te raak.

Lees ook: Ondersoek kan Ace sink

Ngqulwana beweer dat Magashule in Mei 2017 aan Ralikontsane opdrag gegee het om R141 000 aan die African Transformation Foundation te betaal. Dié geld is glo gebruik vir die stigting daarvan.

Ralikontsane het Sondag by navraag gesê hy vind hierdie bewering “vreemd”. Hy ontken dat hy ooit so ’n opdrag gekry het.

“Sodra ek die beëdigde verklaring van Magashule en Ngqulwana sien, sal ek kommentaar kan lewer. ’n Regeringsinstelling mag nooit vir ’n politieke party ’n skenking maak nie. Indien die instelling destyds so gekamoefleer was dat ons gedink het dit is ’n kerk aan wie ons die geld oorbetaal, mag dit dalk so wees, maar ek kan glad nie soiets onthou nie.”

Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, sê sy dra geen kennis van ’n betaling van R141 000 wat die Vrystaatse regering aan die African Transformation Foundation gemaak het nie. Foto: Netwerk24
Kopung Ralikontsane, direkteur-generaal van die Vrystaatse provinsiale regering, ontken dat hy geld vir die stigting van die African Transformation Foundation oorbetaal het. Foto: Vrystaatse provinsiale regering, Twitter
Dr. Roy Jankielsohn. Hy sê die DA gaan antwoorde eis van Sisi Ntombela, Vrystaatse premier.Foto: Netwerk24

Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, het by navraag gesê Ralikontsane het ’n DA-verklaring hieroor aan haar gestuur. Sy “dra egter geen kennis van hierdie betaling nie”.

“Hy (Ralikontsane) het aan my gesê hy is geskok oor die bewerings toe ek hom hieroor uitvra,” sê Ntombela.

Die DA sê in sy verklaring hy gaan antwoorde eis van Ntombela.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê as Ngqulwana se bewerings waar is, kom dit neer op ’n ernstige ampsoortreding deur Magashule toe hy premier van die Vrystaat was.

Dit sal ook beskou kan word as ernstige wangedrag deur die direkteur-generaal kragtens dissiplinêre kodes wat betref die misbruik van sy posisie in die openbare diens om ’n politieke party te bevorder of te bevoordeel.

“Dit impliseer dat geld van die provinsiale regering gebruik is om die opposisie te verdeel en vir binnegevegte in die ANC.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.