Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ntombela kry interdik teen OB se aanbevole stappe
Sisi Ntombela, Vrystaatse premier. Foto: Argief

Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, het ’n interdik bekom teen die implementering van regstellende stappe wat die openbare beskermer (OB) in ’n verslag aanbeveel het, nadat die OB bevind het ’n Vrystaatse LUR het die etiese gedragskode van die wetgewer geskend.

Adv. Busisiwe Mkhwebane (OB) het in verslag 91 van 2019/20 bevind Sam Mashinini, LUR vir polisie, paaie en vervoer in die Vrystaat, het die etiese gedragskode van die wetgewer in sy hoedanigheid as LUR vir openbare werke en infrastruktuur geskend.

Luidens Ntombela se antwoord op ’n amptelike vraag in die wetgewer deur DA-wetgewerlid James Letuka is die verslag vir hersiening by die hooggeregshof ingedien.

“ ’n Interdik is toegestaan wat toestemming aan die premier en die direkteur-generaal verleen om nie die remediërende stappe, soos deur die OB bepaal, hangende die hersieningsaansoek en daaropvolgende appèlle te implementeer nie,” lui Ntombela se antwoord.

Letuka wou weet of Ntombela die nodige stappe gedoen het om die verslag se aanbevelings te implementeer rakende Mashinini.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB). Foto: Argief

Die OB het Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier, se beweerde oortreding van die etiese kode deur te versuim om eerlik en voldoende op vrae van die DA in die wetgewer te beantwoord, ondersoek.

Mkhwebane het in dié verslag bevind Magashule het nie dié kode oortree nie, maar Mashinini wel.

Sy het bevind dr. Roy Jankielsohn, leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, se klag dat Mashinini die Vrystaatse wetgewer mislei het in antwoord op ’n vraag wat verband hou met die begrafnisreëlings van wyle Fundiswa Fez’i Ngubentombi, voormalige LUR vir gesondheid, dra water.

Ngubentombi het in Desember 2012 in ’n motorongeluk gesterf en haar begrafnis het meer as R8 miljoen gekos, het Netwerk24 vroeër berig.

Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer en Vrystaatse voorsitter van die ANC. Foto: Argief

“Die DA het ’n klag by die OB gelê rondom die uitvoerende gesag in die Vrystaat se swak antwoorde op vrae wat lede van die Vrystaatse wetgewer aan hulle rig.

“Die OB het gesê Mashinini moet voor die etiese komitee van die wetgewer verskyn. Dit as gevolg van sy swak en onoordeelkundige antwoorde aan lede van die wetgewer,” sê Jankielsohn.

Hy sê die premier sal nie die wetgewer se grondwetlike mandaat verdedig om die provinsiale regering verantwoordbaar te hou nie. Hy sê voorts sy sal nie stappe teen haar politieke hoof doen nie.

Mashinini is ook Vrystaatse voorsitter van die ANC.

“Dit is waarom talle Vrystaatse premiers marionet-administrateurs was en is, wat deur hul politieke poppemeesters in die ANC op provinsiale en nasionale vlak verstrengel word.”

Netwerk24 het ’n navraag aan Sello Pietersen, Ntombela se woordvoerder, gestuur. Geen terugvoering is teen publikasie hiervan ontvang nie.

Meer oor:  Sisi Ntombela  |  Sam Mashinini  |  Openbare Beskermer  |  Interdik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.