Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC is nie sterwend – Cyril

Die ANC is nie sterwend nie.

Dít het pres. Cyril Ramaphosa Maandagmiddag as ANC-president benadruk toe hy die slotrede van die spesiale vergadering van sy party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gelewer het. Dié vergadering is oor drie dae gehou.

Emosies het hoog geloop, veral in reaksie op Ace Magashule, omstrede sekretaris-generaal, se tydelike skorsing verlede week.

Ramaphosa het dit benadruk dat die werk van die ANC van tak- tot nasionale vlak voortgaan ondanks die bitter faksie-binnegevegte tussen sy ondersteuners en dié van Magashule.

Hy meen die ANC moet net dié werksaamhede van die party meer proaktief kommunikeer om die “vals” wanindruk dat hy op die rand van ineenstorting is, teen te werk.

DURBAN, SOUTH AFRICA - APRIL 15: President Cyril R
Pres. Cyril Ramaphosa in Durban op 15 April. Foto: Gallo Images

Ramaphosa het bygevoeg die eerste dag van die vergadering Saterdag het saamgeval met die 25ste herdenking van die demokratiese Grondwet en die ANC en sy lede het ’n geskiedkundige verantwoordelikheid om die Grondwet te respekteer, te handhaaf en te bevorder.

Hoewel “baie moeilike” kwessies op dié belangrike aanlyn NUK-vergadering bespreek is, het dit volgens Ramaphosa ook ’n stewige grondslag gelê vir die werk wat die ANC vanjaar moet doen.

Die party se hoofprioriteite vanjaar is volgens die NUK onder meer om:

• Die Covid-19-pandemie saam met alle Suid-Afrikaners te oorwin;

• Die ekonomie te hernu en te herstel;

• Die ANC fundamenteel te hernu;

• Plaaslike regerings te versterk en ’n beslissende ANC-oorwinning in Oktober se munisipale verkiesing te verseker; en

• Om aan ’n beter Afrika en wêreld te bou.

Benewens besluite oor Magashule se lot, was van die ander belangrike NUK-besluite onder meer oor:

Covid-19-pandemie

Die NUK het kennis geneem van die kommerwekkende teken van ’n toename in die getal infeksies in sommige gebiede en die noodsaaklikheid vir Suid-Afrikaners om waaksaam te wees om ’n “verwoestende” derde vlaag te verhoed.

Hulle het weer ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om hul maskers te dra, gesonde afstande te handhaaf en hande te was én gevra dat alle volwassenes deelneem aan die nasionale inentingsprogram, wat in Mei begin.

Die NUK benadruk ook dat Suid-Afrika entstowwe en behandeling van alle beskikbare hulpbronne, Brics-lande ingesluit, moet bekom.

Hulle het ook Suid-Afrika en Indië se inisiatiewe verwelkom om ander lande te versoek om tydelik van eiendomsregte op entstowwe afstand te doen om gelyke toegang tot entstowwe te bewerkstellig.

Zondo-kommissie

Die party het sy ondersteuning herbevestig vir die Zondo-kommissie en die rol wat hy speel om die aard en omvang van staatskaping te bepaal en om skuldiges aanspreeklik te hou.

“Hoewel die ANC onder die loep geneem is by die kommissie, glo ons dat dit ’n nodige deel is van die nasionale poging om staatskaping in al sy vorme te beëindig en om te verseker dat dit nooit weer gebeur nie,” het Ramaphosa gesê.

Grondhervorming

Die NUK het die vordering verwelkom wat tot dusver in die parlement gemaak is om die Grondwet te wysig om onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak. Dit moedig ook die regering aan om hulpbronne en kapasiteit te versterk om grondhervorming en -restitusie te bespoedig.

Plaaslike regering

Die NUK erken dat die ANC in sommige gebiede steun verloor het en belowe dat die party sy swakhede in aanloop tot die verkiesing sal regstel en maatreëls sal instel om te verhoed dat die mislukkings ingevolge beleid en partykandidate na die toekoms oorspoel.

Nasionale hoofraadsvergadering

Die NUK het die ANC se kantoor van die sekretaris-generaal opdrag gegee om ’n omvattende verslag saam te stel met voorstelle oor die aard, vorm en tyd van die hoofraadsvergadering.

Provinsies

Die NUK het benadruk dat ’n politieke oplossing vir die huidige dooiepunt in die ANC in die Vrystaat gevind moet word.

Dít terwyl die mandaat van die tussentydse provinsiale komitee in Noordwes verleng is.

Verder moet tug- en kriminele stappe weens die onlangse geweld by takvergaderings in Mpumalanga ook dringend ingestel word.

LGBTQI-aanvalle

Die NUK spreek sy volle steun vir die regte van die LGBTQI-gemeenskap uit en veroordeel die toename van voorvalle van haatmisdade teen lede van dié gemeenskap ten sterkste.

Buiteland

Die NUK ondersteun pogings om die konflik in Cabo Delgado, Mosambiek, op te los en moedig ook gesprekke tussen die ANC en die regerende Frelimo-party daar aan.

Verder is die proses om die ANC se bande met die Ierse organisasie Sinn Fein te versterk, ook verwelkom.

Die NUK het ook sy solidariteit met Kuba en die verdere versterking van bilaterale betrekkinge met die land herbevestig.

Die ANC se steun vir die Palestyne in hul voortgesette stryd om vryheid en selfbeskikking is ook herbevestig, terwyl die NUK ook die onwettige uitsettings van Palestyne uit hul huise in Sheikh al Jarrah en die aanvalle op Palestynse betogers Maandag by die Al Aqsa-moskee en die Koepel van die Rots ten sterkste veroordeel het.

Meer oor:  Nuk  |  Faksiegevegte  |  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.