Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NUK-vergadering ‘sal wys hoe stewig Cyril leisels hou’

Spanning tussen die faksies van pres. Cyril Ramaphosa en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, sal volgende naweek op ’n vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) op die spits gedryf word.

Dakota Legoete, ANC-woordvoerder, het Sondag gesê die party se nasionale werkkomitee vergader Maandagmiddag om die agenda van die NUK-vergadering op te stel.

Die kans is goed dat die kwessie oor of Magashule sy pos moet ontruim, bespreek sal word nadat hy vandeesmaand van korrupsie, bedrog en geldwassery in verband met die asbesdak-oudit in die Vrystaat aangekla is.

Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het vroeër reeds gesê die NUK-vergadering sal aanbevelings oor regsadvies onder die loep neem oor of lede wat aangekla is, opsy moet staan.

Magashule weier om pad te gee en het met sy verskyning in die landdroshof in Bloemfontein gesê hy sal nie afstand van sy pos doen nie, tensy die ANC-takke daarvoor vra.

Theo Neethling, ’n politieke ontleder aan die Universiteit van die Vrystaat, sê die NUK-vergadering sal die ware toets wees oor of Ramaphosa die partyleisels stewig vashou.

Ná ’n vorige NUK-vergadering in Augustus was Ramaphosa die een wat die besluit van die NUK aangekondig het dat lede wat strafregtelik aangekla word, opsy moet staan.

Die taak van die ANC is nou om te bepaal hoe hulle die besluit tot uitvoering gaan bring en in die visier is Ace Magashule
Theo Neethling

“Die taak van die ANC is nou om te bepaal hoe hulle die besluit tot uitvoering gaan bring en in die visier is Ace Magashule, wat een van die mees invloedryke posisies in die party beklee,” sê Neethling.

Ulrich Roux, ’n regskenner, sê ingevolge arbeidswetgewing kan lede van ’n politieke party nie bloot gedwing word om hul pos te verlaat op grond daarvan dat hulle op aanklagte teregstaan nie.

Volgens hom mag die ANC wel sy interne meganismes gebruik om ’n tugproses te begin wat tot ’n skorsing kan lei.

Ingevolge die grondwet van die ANC kan die NUK ingevolge reël 26.3.2 ’n tugproses teen ’n ANC-lid begin as die betrokke lid ernstige oortredings begaan het, soos om “korrup op te tree”.

Die NUK mag ook ingevolge reël 26.3.3 ’n tugproses van stapel stuur as ’n gegewe lid onder meer “aan georganiseerde faksie-bedrywighede deelneem wat verder gaan as die erkende vorms van vrye debat in die organisasie en eenheid bedreig”.

Dr. Ntsikelelo Breakfast, ’n politieke kenner verbonde aan die Nelson Mandela-Universiteit, sê die ANC sal huiwerig wees om Magashule uit te skop omdat dit verdeeldheid in die party kan veroorsaak in aanloop tot die munisipale verkiesing in 2021.

“Dit is geen geheim dat Magashule op grondvlak mobiliseer nie. Daar is ANC-lede wat by hom staan en sy veldtog ondersteun,” sê Breakfast.

Hy vind dit vreemd dat die NUK aangekondig het dat lede wat aangekla is, opsy moet staan en eers daarna ’n regsmening wil kry oor of dit toegepas kan word.

“Dit dui op ’n terugvegpoging deur sekeres in die Magashule-faksie wat nie die besluit wil aanvaar nie,” sê hy.

Legoete wou nie veel oor faksie-politiek uitbrei nie, maar het toegegee dat die ANC ’n party is met lede wat diverse beskouings het.

Hy het ’n beroep op eenheid in die ANC gedoen en benadruk dat faksie-politiek ’n negatiewe uitwerking op die party het.

Die African Transformation Movement (ATM), ’n party met slegs twee setels in die parlement, het die wantrouemosie ingedien.

Intussen gaan Ramaphosa Donderdag in die parlement te kampe hê met ’n mosie van wantroue, hoewel die kans dat dit sal slaag volgens ontleders byna nul is.

Die African Transformation Movement (ATM), ’n party met slegs twee setels in die parlement, het die wantrouemosie ingedien. Die DA, die amptelike opposisie, het reeds gesê hy gaan dit nie steun nie.

Hoewel daar vroeër bewerings was dat Magashule betrokke was by die stigting van die ATM, het die ANC se nasionale werkkomitee intussen vir Magashule hiervan kwytgeskeld.

Mxolisi Makhubu, woordvoerder van die ATM, het by navraag dit weer eens ten sterkste ontken dat hulle bande met Magashule het.

Hy sê die party het die aansoek vir die wantrouemosie reeds verlede jaar ingedien. Die parlement het besluit dit moet vandeesweek plaasvind.

“Ons eis steeds dat ’n geheime stemming gehou word sodat ANC-lede met hul gewete sal stem sonder vrees vir vergelding,” sê hy.

As Thandi Modise, speaker van die nasionale vergadering, nie die geheime stemming toelaat nie, sal die ATM hom tot die konstitusionele hof daaroor wend, aldus Makhubu.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.