Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nuwe hoof sal Prasa ‘soos feniks laat herrys’
Zolani Matthews, nuwe uitvoerende groephoof van Prasa. Foto: Verskaf

Die nuwe uitvoerende groephoof van die beleërde Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se eerste taak is om die land se passasierstreine weer aan die gang te kry.

So sê Fikile Mbalula, minister van vervoer, in ’n verklaring Saterdag, waarin hy aangekondig het dat Zolani Matthews, wat ’n meestersgraad in openbare administrasie aan die Harvard-Universiteit behaal het, die leisels by Prasa sal oorneem.

“Vandag blaai ons ’n nuwe blaadjie om in die ou hoofstuk en open ’n nuwe een namate ons vooruit tree om Prasa te herbou en te versterk,” sê Mbalula in die verklaring.

Prasa sukkel sedert die inperking in Maart 2020 om die treine op heelwat van sy spoorlyne aan die gang te kry weens verskeie kwessies soos vandalisme en diefstal nadat verskeie veiligheidsmaatskappye se kontrakte verval het.

Die inperking het ook ’n invloed gehad.

Meer as 3 000 veiligheidswagte is intussen regstreeks deur Prasa aangestel om die spoorwegnetwerk op te pas, maar waarnemers meen die stelsel is steeds blootgestel omdat die wagte glo nog nie die nodige opleiding gehad het nie.

Prasa
Ter illustrasie: Vandalisme het van die land se spoorlyne lewensgevaarlik gemaak.

Bane Ndlovu, Prasa-woordvoerder, het Mbalula se aankondiging oor die permanente aanstelling verwelkom.

“Dit sal broodnodige stabiliteit meebring. Ons eerste prioriteit sal wees om die treine terug op die spoorstelsel te kry. Slegs 16 van ons spoorlyne is tans in bedryf,” het hy gesê.

Matthews is dié staatsinstelling se eerste permanente uitvoerende groephoof sedert Lucky Montana, wat die pos sowat ses jaar gelede beklee het.

Intussen het Prasa ses waarnemende uitvoerende groephoofde gehad en verskeie rade, en jare van korrupsie en wanbestuur het bygedra tot die toestand.

Leonard Ramatlakane, wat al ’n paar maande gelede as die voorsitter van Prasa se raad aangestel is, het in ’n onlangse verklaring erken dat Prasa ’n “gebroke organisasie” is wat hom in ’n “hartseer situasie” bevind.

“Buiten die 16 spoorlyne, beoog die organisasie om tien ander te prioritiseer vir herstel. Werk daaraan kan in April 2021 begin,” het hy gesê.

fikile mbalula
Fikile Mbalula, minister van vervoer. Foto: Verskaf

Volgens Mbalula is Matthews ’n ervare bestuurder met ’n robuuste begrip van internasionale en plaaslike ondernemingstrategie en was hy betrokke by dinamiese organisasies. Hy meen die aanstelling lui ’n nuwe era vir Prasa in waarin die organisasie soos ’n “feniks uit die as sal herrys”.

Sonja Carstens, woordvoerder van die United National Transport Union, sê egter hulle is nie oortuig dat die situasie by Prasa gaan verbeter nie weens soortgelyke beloftes waarvan daar voorheen “dadels gekom het. Mbalula hou daarvan om in die media te oordryf oor al sy planne, maar dit word nie toegepas nie.”

In September het Mbalalula ’n nuwe veiligheidsplan aangekondig waarvolgens onder meer misdaadintelligensie en hommeltuie ingespan sou word teen misdaadsindikate, maar Carstens meen die spoorwegnetwerk is nog net so blootgestel as vroeër.

“Die oplossing is dat pres. Cyril Ramaphosa die weermag inroep om die 37 000 km van Suid-Afrika se spoorstelsel te patrolleer. Sindikate is selfs besig om klampe af te steel wat die hout vashou en wanneer die trein daaroor ry, sak dit weg en die trein ontspoor,” sê Carstens.

Meer oor:  Zolani Matthews  |  Prasa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.