Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nuwe jeugliga ‘sal nie foute van verlede herhaal’

Die ANC se nasionale jeug-taakspan gaan afstand tussen hom en die faksiegevegte in die party skep en nie betrokke raak by die magstryd wat woed sedert pres. Cyril Ramaphosa se verkiesing nie.

So het Refilwe Lekgothoane, woordvoerder van die taakspan, Maandag by die ANC se hoofkantoor in Johannesburg gesê.

“Die slegte gewoontes wat in die hoofliggaam aangetref word, mag nie herhaal word in die proses om die jeugliga te herbou nie. Ons wil ’n jeugliga hê wat die stem van jong Suid-Afrika en selfs van professionele mense is,” het sy gesê.

Die ANC-jeugliga is in die onlangse verlede gekritiseer dat hy vasgevang is in faksiegevegte tussen leiers in die hoofliggaam.

In die aanloop tot die ANC se verkiesingskongres by Nasrec in 2017, het Gwede Mantashe, destydse sekretaris-generaal van die ANC, gesê die jeugliga het homself gereduseer tot “gesante” vir individuele leiers in die party.

Die jeugliga was toe ’n stoere ondersteuner van die destydse pres. Jacob Zuma en het verbete vasgeskop teen eise dat hy uit sy posisie verwyder word.

Legothoane het onderneem dat die liga nie sy optrede van destyds sal herhaal nie.

Die jeugliga, onder leiding van Collen Maine, is verlede maand ontbind en Sibongile Besani, koördineerder van die nuwe taakspan, het gesê daar gaan van die ou lidmaatskapstelsel oorgeskakel word na ’n stelsel van elektroniese lidmaatskap om “hekwagterskap” te keer.

Die jeug-taakspan is aangewys om die proses te bestuur om die jeugliga te herbou en leiding te gee in die aanloop tot ’n verkiesingskongres. Die laaste sodanige kongres is in September 2015 gehou toe Maine as president gekies is.

Die termyn van die uitvoerende komitee onder sy leierskap het verlede jaar verval.

Die taakspan sal onder meer alle provinsiale strukture van die jeugliga besoek en ’n padkaart van die proses om die jeugliga te herbou, sal met hulle gedeel word, het Besani gesê.

Die taakspan wil ook die hofbevel wat die jeugliga in Julie verlede jaar bankrot verklaar het, nietig laat verklaar.

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.