Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nuwe kabinet: Eerste vuurdoop vir Naledi Pandor
Dr. Naledi Pandor
Dr. Naledi Pandor Foto: Argief

Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het haar eerste vuurdoop in dié pos gehad – die sage rondom die omstrede twiets van Zindzi Mandela, Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke.

Pandor is einde verlede maand deur pres. Cyril Ramaphosa as minister in dié departement aangestel in die plek van Lindiwe Sisulu wat na die portefeulje menslike nedersettings, water en sanitasie verskuif is.

Ná dié dogter van oudpres. Nelson Mandela se twiets, wat wyd opslae gemaak het, het Pandor haar gebel en haar berispe.

Die 65-jarige Pandor, wat in Durban gebore is, se familie het jarelange bande met die ANC gehad.

Sy was ’n kleindogter van ZK Matthews, ’n ANC-struggle-held en akademikus, wat ANC-president in die Kaap was. Haar pa was Joe Matthews, ook ’n bekende ANC-aktivis en prokureur.

Zindzi Mandela
Zindzi Mandela, Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke. Foto: Argief

Sy was ook familie van Sol Plaatje, eerste sekretaris-generaal van die South African Native National Council wat later die ANC geword het.

Pandor het aan die Universiteit van Botswana studeer en het ’n graad in geskiedenis en Engels verwerf voordat sy ’n meestersgraad aan die Universiteit van Londen behaal het.

Sy het later Engels aan universiteite in Engeland, Botswana en Suid-Afrika gedoseer en het vroeër vanjaar ’n doktorsgraad in onderwys aan die Universiteit van Pretoria verwerf.

Sy en haar man, Sharif Joseph Pandor, het vier kinders.

Pandor, ’n voormalige voorsitter van die raad van provinsies en adjunkhoofsweep van die ANC, is in 2004 deur oudpres. Thabo Mbeki as minister van basiese onderwys aangestel.

Onder oudpres. Jacob Zuma was sy van 2012 tot 2014 minister van binnelandse sake. Dit was in die tyd van die sage rondom die Gupta-vliegtuie op die lugmagbasis Waterkloof in Pretoria.

Pandor het as minister van wetenskap en tegnologie ’n sleutelrol gespeel om Suid-Afrika aangewys te kry as mede-gasheerland van die SKA-teleskoopprojek in die Karoo. Australië is die ander gasheerland.

Sy was aanvanklik Ramaphosa se voorkeurkandidaat as adjunkpresident met die ANC se leierskapsverkiesing in 2017, maar Ramaphosa was deur omstandighede gedwing om David Mabuza in dié pos aan te stel.

Prof. Anthoni van Nieuwkerk, ’n kenner van internasionale politiek by Wits, sê daar is meer voordele as nadele aan Pandor se aanstelling.

Hy glo haar passie vir die wetenskap en tegnologie, asook onderwys, sal tot Suid-Afrika se voordeel in haar nuwe pos weerklank vind.

Van Nieuwkerk meen danksy haar voorliefde vir onderwys, sal Pandor voortbou op die droom van Sisulu om ’n diplomatieke akademie op die been te bring.

Nóg iets wat in haar guns tel, is die feit dat sy vertroud is met die Suid-Afrikaanse politiek en ekonomie en die rol wat dit te speel om van die politieke oorgang in die land ’n sukses te maak.

Die vernaamste nadeel is dat sy nie die agtergrond en ondervinding as diplomaat het nie.

Sy het waarskynlik ook nie die ervaring van iemand soos dr. Nkosazana Dlamini-Zuma wanneer dit kom by die werkinge van onder meer die Afrika-Unie en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap nie.

“Wanneer ’n mens praat oor die vryehandelsgebied in Afrika, moet jy kundig wees. Dit is ’n komplekse saak waarin jy ’n regsbrein en ervaring nodig het.”

Van Nieuwkerk sê Pandor moet seker maak sy het ’n sterk span adviseurs om haar.

Een van haar groot uitdagings sal onder meer wees om met die Amerikaners te onderhandel oor die moeilike kwessie van byvoorbeeld staaltariewe.

Daily Maverick berig Pandor het verlede week op ’n ontbytbyeenkoms aan buitelandse diplomate gesê sy het aan Ramaphosa gesê sy hou van debatteer, maar het nog nie die kuns van diplomasie ontwikkel nie.

Sy het gesê wanneer protokol ’n hindernis word om iets gedoen te kry, is sy bevrees sal sy prokokol agterweë laat.

Dit het groot applous van die diplomate ontlok.

Bykomende bronne: The A_Z of South African Politics (Jacana) ; People’s Assembly; South African History on line.

Meer oor:  Zindzi Mandela  |  Kabinet-Profiele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.