Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nuwe kabinet: Sisulu moet dinges uit drinkwater haal

Voordat pres. Cyril Ramaphosa einde verlede maand sy nuwe kabinet aangekondig het, is daar in sekere kringe bespiegel dat Lindiwe Sisulu dalk adjunkpresident kon word.

Dit het nie gebeur nie en die president het haar selfs uit haar pos as minister van internasionale betrekkinge en samewerking verskuif na die nuwe, saamgevoegde departement van menslike nedersettings en water en sanitasie.

Lindiwe SisuluFoto: Sarel van der Walt

In praktyk beteken dit die 65-jarige Sisulu is van die pos van Suid-Afrika se voorste diplomaat verskuif na ’n departement waar sy letterlik en figuurlik die dinges uit die drinkwater moet haal.

Sisulu het ’n bankrot en chaotiese departement van water en sanitasie geërf. Die skuld hiervoor word vierkantig geplaas voor die deur van Nomvula Mokonyane, een van haar voorgangers.

Daar was veral baie kritiek oor die wyse waarop Mokonyane die uitbreiding – én uiteindelike mislukking – van die tweede fase van die Lesotho-hooglandwaterprojek gehanteer het.

Die departement van water en sanitasie wat Sisulu nou geërf het, het later nie meer geld gehad om sy mandaat uit te voer nie.

Sisulu sal volgens kenners genoeg hê om haar besig te hou.

Haar prioriteite sluit onder meer in die voltooiing van die Lesotho-hooglandprojek (wat vanjaar al klaar moes wees), die besoedelingsramp in die Vaalrivier, die swak beheer oor die toekenning van waterlisensies en die swak finansiële posisie van munisipaliteite wat nie meer geld het om waterinfrastruktuur te onderhou nie.

Die VF Plus sê Sisulu se departement het onlangs in antwoord op ’n parlementêre vraag geantwoord ’n totaal van 118 myne uit 712 wat waterlisensies het, het nie aan hul lisensievoorwaardes voldoen nie. Voorts is 115 myne tans aktief sonder enige waterlisensie.

Sisulu het Dinsdag luidens ’n verklaring van haar departement gesê dit het tyd geword dat amptenare van haar departement minder op kantoor is en meer interaksie met munisipaliteite, ondernemings en gemeenskappe moet hê om uitdagings te oorkom.

Probleemoplossers

“Amptenare van die departement moet probleemoplossers wees; hulle moet aktief betrokke wees en rolspelers byeen bring om probleme op te los.

“Ons het baie goeie beleid. Dit is tyd dat dit in werking gestel moet word en ons mees ervare en senior amptenare moet die leiding neem.”

Sisulu sê in die verklaring haar ervaring is dat die meeste ondernemings gewillig is om munisipaliteite by te staan met vaardige personeellede en selfs in sommige gevalle geldelik by te dra om water en sanitêre uitdagings te oorkom.

Sy het verlede week met lede van provinsiale uitvoerende rade vir water en sanitasie, burgemeesters en beamptes vergader om die vernaamste prioriteite te bepaal.

Sisulu is ’n ervare lid van die kabinet.

Twee meestersgrade

Sy was benewens minister van internasionale betrekkinge en samewerking, ook al minister van verdediging en militêre veterane, minister van openbare werke en administrasie en minister van huisvesting. Sy was ook ’n adjunkminister van binnelandse sake.

Dié dogter van die voormalige ANC-strydrosse Walter en Albertina Sisulu is ook ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee en nasionale werkkomitee.

In 2017 was sy ’n kandidaat vir die adjunkpresidentskap van die ANC, maar het nie die pyp gerook nie.

Sisulu het twee meestersgrade aan die Universiteit van York in Engeland verwerf, een in geskiedenis en die ander in Afrika-studies.

Nadat sy ná ballingskap in 1990 na Suid-Afrika teruggekeer het, was sy die persoonlike assistent van die hoof van die ANC se afdeling vir intelligensie – oudpres. Jacob Zuma.

Sy het tydens haar ballingskap in Umkhonto we Sizwe, militêre vleuel van die ANC, gedien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.