Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nuwe koalisie kom dalk in NMB

Dit lyk of daar kort voor die amptelike raadsvergadering van die Nelson Mandelabaai-metroraad om ’n nuwe burgemeester te kies, ’n moontlikheid is van ’n nuwe koalisieregering.

Buyelwa Mafaya, speaker van die raad, het verlede week ’n raadsvergadering vir 13 Augustus geskeduleer met die verkiesing van ’n nuwe burgemeester hoog op die sakelys.

Raadslede wil ook die provinsiale regering se voornemens om die metro onder administrasie te plaas, bespreek.

Mafaya het die vergadering belê ná hewige druk van die DA, wat haar hof toe gesleep het om seker te maak die vergadering word gehou.

In ’n nuwe wending het Mongameli Bobani, die metro se voormalige burgemeester wat verlede jaar deur ’n wantrouemosie uit sy amp onthef is, vandeesweek weer sy plek in die burgemeesterskomitee verseker.

Hy is aangestel as hoof van die afdeling vir infrastruktuur en ingenieurswese nadat Andile Lungisa bedank het om ’n dissiplinêre verhoor vry te spring.

Dié nuwe verwikkelinge het kleiner opposisiepartye in die raad (AIC, UDM, Patriotic Alliance en die UDM), wat die ANC se koalisievennote is, genoop om koppe bymekaar te sit.

Hulle is dit eens dat hulle nou hul opsies sal oophou en saam sal staan wanneer dit kom by die besluitneming rondom moontlike koalisies.

Die kleiner partye sê hulle is moeg vir die binnegevegte in die ANC, en dat die moontlikheid om weer met die DA saam te werk nie heeltemal uitgesluit is nie.

Marlon Daniels van die Patriotic Alliance sê die kleiner partye staan saam sodat hulle hul onderhandelingsmagte kan versterk.

Hy sê die een ding wat hy tot dusver geleer het (deur in ’n koalisie met sowel die DA as die ANC te werk), is dat die een party nie juis beter is as die ander een nie.

Hy hoop die DA het geleer sy “arrogansie” gaan hom nêrens bring nie.

“Die DA het altyd na die koalisie met die kleiner partye verwys as die DA-geleide koalisie. Hulle moet besef hul meerderheidstem in die raad is nie belangriker as ’n kleiner party se een stem nie.

“Ek is seker gesprekke gaan volgende week plaasvind. Die Patriotic Alliance is nie seker of hy gaan bly by die ANC of gaan saamwerk met die DA nie. Ons sal weet nadat ons gepraat het.

“Wat die Patriotic Alliance soek, is ’n stabiele regering,” sê Daniels.

Mkhuseli Mtsila van die United Front het bevestig die kleiner partye staan saam as ’n eenheid.

Tshonono Buyeye het die leisels as tydelike burgemeester verlede jaar by Bobani oorgeneem.

Meer oor:  Koalisie  |  Buyelwa Mafaya  |  Nelson Mandelabaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.