Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nuwe LP’s dié week in Kaap vir induksie
Die parlementsgebou in Kaapstad.

Die politieke fokus skuif dié week na Kaapstad wanneer aangewese parlementslede Maandag daar begin aankom vir induksie en hul beëdiging as LP’s later dié week.

Terselfdertyd kom die ANC-topleierskap ook Maandag in die Moederstad byeen vir ’n spesiale vergadering van sy nasionale uitvoerende komitee (NUK).

Pres. Cyril Ramaphosa kan moontlik in dié tyd die ANC se topsesleiers raadpleeg oor sy finale keuse van kabinetslede.

Nuwe en bestaande lede van die nasionale vergadering (NV) en die nasionale raad van provinsies (NRP) begin Maandag in die Kaap aankom ter voorbereiding van hul beëdiging Woensdag en Donderdag.

Hulle sal ’n registrasieproses sowel as ’n induksieprogram ondergaan.

Dit kom nadat die parlement die lys van aangewese lede van die NV op 15 Mei van hoofregter Mogoeng Mogoeng ontvang het.

Luidens ’n verklaring van die parlement word daar verwag dat die 400 aangewese NV-lede van Maandagoggend af sal begin registreer.

’n Oefening van die prosedures vir die eerste NV-sitting van Woensdag word beplan. LP’s sal ook ’n inligtingsessie oor die reëlings van verwante aktiwiteite van die beëdigingsproses ontvang.

Woensdagoggend se sitting van die NV, waartydens die beëdiging sal plaasvind, is vir 10:00 geskeduleer met Mogoeng wat as voorsittende beampte sal optree.

Die speaker en adjunkspeaker sal ook tydens die oggendsessie verkies word.

Die verkiesing van die president sal tydens die middagsessie plaasvind.

Permanente afgevaardigdes van die NRP sal na verwagting Dinsdag vir registrasie aanmeld. Hulle sal Woensdag ’n simulasiesessie van die eerste sitting van dié raad bywoon.

LP’s van die raad sal Donderdag deur Mogoeng beëdig word. Die voorsitter, adjunkvoorsitter en hoofsweep sal ook tydens die sitting verkies word.

Bestaande LP’s wat vir die nuwe parlementêre termyn terugkeer, sal in dieselfde huise in die drie parlementêre dorpies in Kaapstad gehuisves word as waarin hulle vroeër gebly het.

Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, het by navraag gesê terwyl die proses aan die gang is om permanente of langtermynverblyf vir nuwe LP’s te vind, sal hulle tydelik in hotelle gehuisves word.

Talle nuwe gesigte, maar ook ou bekendes, sal ná die Mei-verkiesing as parlementslede beëdig word na gelang van hoe goed hul politieke party by die stembus gevaar het of hoe hoog hulle op die kandidatelyste verskyn wat hul onderskeie partye saamgestel en by die Verkiesingskommissie (OVK) ingedien het.

Alle oë sal teen die naweek na Pretoria verskuif waar Ramaphosa op Saterdag 25 Mei by Loftus Versfeld as president beëdig sal word. Hy sal na verwagting sy nuwe kabinet kort daarna aankondig.

Meer oor:  Kaapstad  |  Parlementslede  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.