Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nuwe LUR vir gesondheid in O-Kaap aangewys

Nomakhosazana Meth, voormalige LUR vir landelike ontwikkeling en landbouhervorming, is Dinsdag as die Oos-Kaap se nuwe LUR vir gesondheid aangewys.

Dit is een van die drie veranderinge aan die provinsiale uitvoerende raad wat Oscar Mabuyane, premier, op ’n nuuskonferensie aangekondig het.

Meth neem as LUR vir gesondheid oor nadat Sindiswa Gomba verlede maand deur Mabuyane uit haar amp onthef is. Dit was kort nadat sy die eerste keer as beskuldigde in die bedrogsaak oor oudpres. Nelson Mandela se destydse gedenkdiens en begrafnis in die Oos-Kaap in die hof verskyn het.

Oscar Mabuyane (tweede van links), die Oos-Kaap se premier, het Dinsdag veranderinge aan die provinsie se uitvoerende raad aangekondig. Van links is Nonceba Khontsiwe, LUR vir menslike nedersettings, Mabuyane, Nomakhosazana Meth, LUR vir gesondheid, Selby Mbenenge, Oos-Kaapse regter-president, en Nonkqubela Pieters, LUR vir landbou en landbouhervorming. Foto: Mandla Nduna/Premierskantoor

Nonkqubela Pieters is as LUR vir landbou en landbouhervorming aangewys en Nonceba Khontsiwe neem Pieters se amp as LUR vir menslike nedersettings oor.

“Die mense wat ons aangestel het, kan hierdie departemente lei. Ons vertrou hulle sal die nodige leierskap bied sodat die departemente hul grondwetlike mandaat nakom.”

Die besluit om Meth as LUR aan te stel is egter deur Jane Cowley, DA-woordvoerder oor gesondheid in die provinsie, gekritiseer.

Volgens Cowley het Meth nie genoeg kennis van die ingewikkelde uitdagings in die gesondheidsdepartement nie. Sy het onder meer na die departement se aanspreeklikheid ten opsigte van mediese eise verwys, wat volgens haar sowat R37 miljard beloop.

Nomakhosazana Meth is die nuwe LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap. Foto: Facebook

Cowley glo Meth is aangestel om te voldoen aan die ANC-beleid van 60% vroulike verteenwoordiging in die uitvoerende raad as ’n man die premier is eerder as om iemand met die nodige kennis aan te stel.

Oor Meth se ervaring in die gesondheidsektor sê Mabuyane hulle wil nie ’n dokter in die amp hê nie, maar iemand wat die nodige leierskap vir die departement se uitdagings kan bied.

Mabuyane sê hoewel Meth nie ’n gesondheidswerker is nie, het sy voorheen op verskeie gesondheidsplatforms leiding gebied. Hy sê die gesondheidsdepartement benodig ywerige leiers wat die departement met ’n passie sal dien en hy glo Meth sal dit doen.

Intussen sê Mabuyane 7 226 gesondheidswerkers in die Oos-Kaap is tot dusver by drie staatshospitale met die Johnson & Johnson-entstof teen Covid-19 ingeënt. Die provinsie het net meer as 200 000 gesondheidswerkers, wat private en tradisionele geneeshere insluit.

Mabuyane sê fase 2 van die provinsie se inentingsprogram, wat noodsaaklike werkers behels, sal na verwagting teen Julie begin.

Die Oos-Kaap het teen Maandag 253 aktiewe Covid-gevalle gehad. Die kumulatiewe getal bevestigde virusgevalle in die provinsie staan op 194 129, met ’n herstelkoers van 94%. Die provinsie se Covid-19-sterftes is 11 314.

Meer oor:  Nomakhosazana Meth  |  Oos-Kaap  |  Gesondheid  |  Lur  |  Aanstelling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.