Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Nuwe ministeriële handboek stuur die regte boodskap’

Die nuwe ministeriële handboek wat verlede week deur die kabinet goedgekeur is, sal simbolies gesproke meer vir die land beteken as die hoeveelheid geld wat uiteindelik bespaar sal word.

Tito Mboweni, minister van finansies.

So sê prof. Erwin Schwella, ’n regeerkundige van die Universiteit van Tilburg in Nederland en die Hugenote-kollege in Wellington.

Die nuwe ministeriële handboek lê onder meer riglyne neer oor wat ministers en adjunkministers vir voertuie mag uitgee, hoeveel reiskostes hulle mag aangaan en hoeveel geld hulle vir veiligheid aan hul private wonings mag bestee.

“Die simboliek daarin lê veral in die feit dat die riglyne deur die kabinet goedgekeur is.

“Op ’n begroting van miljarde rande sal dit nie ’n beduidende verskil maak nie, selfs al word al die besparings deurgevoer,” sê Schwella.

“Dit is belangrik uit ’n simboliese oogpunt dat die besparings ingestel en daar groter beheer oor die uitgawes van die kabinet kom.

“Die ministeriële handboek stel ’n voorbeeld aan lede van die nasionale regering en die provinsiale regerings.

“In ’n sekere sin is hier nou ’n groter etos vir lede van die kabinet van ‘ons moet realisties wees oor waar ons bly, wat ons kry en wat ons ry’,” sê Schwella.

“Dit is nou deur die kabinet goedgekeur en almal weet presies wat die riglyne is.

Dit is nou deur die kabinet goedgekeur en almal weet presies wat die riglyne is.

“Daar is nou behoorlike toesig, oorsig en aanspreeklikheid wat in die departement van finansies en die nasionale tesourie gesetel is.

“Die nuwe riglyne sal waarskynlik strenger opgedwing word.

“In die verlede het die optrede van ministers wanneer dit by reis en verblyf kom, ’n wrang smaak by die publiek gelaat.

“Dit is omdat die publiek altyd ’n vergelyking maak tussen hoe ons leiers leef teenoor hoe ons leef. Die gevoel onder die publiek was dat ons deurgaans swakker daaraan toe is as die politici,” sê Schwella.

“Die indruk van die publiek was dat die politici onverskrokke besig was om voor te gaan om ’n luukser lewe te lei.

“Daar was tot nou toe baie groot vermorsing. Die nuwe riglyne aan die kabinet dwing leiers nou om ’n ander ingesteldheid te kry. Dit is ’n ingesteldheid wat sê ‘ons is daar tot diens van die mense en nie daar om op allerlei wyses onsself ten koste van die mense te verryk nie’,” sê Schwella.

Sunday Times het die naweek berig die ministeriële handboek maak dit onder meer duidelik dat ministers nie meer eersteklas op internasionale vlugte mag vlieg nie, en hul ampsmotors mag nie meer as R700 000 kos nie.

In die verlede kon ministers tot R1,6 miljoen vir voertuie opdok en adjunkministers R1,3 miljoen.

Ministers en adjunkministers mag nou slegs besigheidsklas vlieg. Die riglyne maak dit duidelik dat ministers so goedkoop moontlik moet reis.

Mboweni gebruik sy eie private motor.

Oorsese verblyf mag boonop nie duurder wees as verblyf in Suid-Afrika nie.

Tito Mboweni, minister van finansies, het Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, reeds opdrag gee om twee BMW-X5-motors, wat vroeër vir sy voorganger en die adjunkminister van finansies gekoop is, te verkoop, het Sunday Times berig.

Mboweni meen Mercedes-Benz se C-klas-voertuie van R600 000 is meer as goed genoeg vir ministers om mee te ry.

Mboweni gebruik sy eie private motor.

Die dae van groot afvaardigings wat ministers op buitelandse reise vergesel, is ook getel.

Ministers en adjunkministers sal in die toekoms self moet opdok vir die verbetering van veiligheidsmaatreëls aan hul private wonings.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Wellington  |  Nederland  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.