Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nuwe NDOV ‘moet ganse strafregstelsel regruk’
Dr. Silas RamaiteFoto: CITY PRESS
Adv. Glynnis BreytenbachFoto: HERMAN VERWEY
Adv. Rodney de KockFoto: PETER ABRAHAMS
Adv. Andrew ChaukeFoto: DAILY SUN
Adv. Andrea JohnsonFoto: LIZA VAN DEVENTER

Die persoon wat pres. Cyril Ramaphosa uiteindelik as Suid-Afrika se volgende nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) gaan aanstel, sal hare op sy of haar tande moet hê. Hy of sy sal die hele erg problematiese strafregstelsel moet regruk, meen oudregter Johann Kriegler.

Ramaphosa het Vrydag die kortlys van 12 kandidate wat vir dié vakante pos oorweeg sal word, uitgereik.

Dr. Silas Ramaite, waarnemende NDOV, is een van die kandidate.

Paul O’Sullivan, forensiese ondersoeker, het egter Vrydag aangekondig dat hy Ramaite se kandidatuur ten sterkste sal teenstaan “omdat hy steeds kaping by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) toelaat”.

Die ander kandidate is:

* adv. Shamila Batohi, was destyds die hoofadvokaat in die King-kommissie van ondersoek oor wyle Hansie Cronjé, oudkrieketkaptein;

* adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP en voormalige aanklaer by die NVG,

* adv. Andrea Johnson, mede-aanklaer in die saak teen Oscar Pistorius;

* adv. Andrew Chauke, DOV in Suid-Gauteng;

* adv. Rodney de Kock, DOV in die Wes-Kaap;

* adv. Moipone Noko, DOV in KwaZulu-Natal;

* adv. Matric Luphondo, hoofaanklaer in Pretoria;

* adv. Simphiwe Mlotshwa, voormalige waarnemende DOV in KwaZulu-Natal;

* adv. Naomi Manaka, oudlanddros;

* adv. Siyabulela Mapoma; en

* adv. M. Makhari.

Onderhoude met die 12 sal na verwagting op 14 November begin.

Daar was aanvanklik 22 aansoeke en 24 benoemings vir die pos wat vakant geraak het toe die konstitusionele hof in Augustus vanjaar beslis het oudpres. Jacob Zuma se aanstelling van adv. Shaun Abrahams, die vorige NDOV, was ongeldig.

Kriegler meen die pos van NDOV is ’n uiters belangrike aanstelling omdat die agteruitgang van die land se hele strafregstelsel tans ’n enorme probleem is.

“Die nuwe bekleër sal die besoedelde NVG-stal moet skoonmaak om ’n strafregstelsel te kan bou waarop ons almal trots kan wees en waarbinne ons veilig kan voel. Die agteruitgang daarvan die afgelope tien jaar was verskriklik.”

Kriegler verwelkom ook die feit dat Ramaphosa wys dat hy ernstig is om iets daaromtrent te doen en dat hy ’n paneel aangestel het om hom daarmee te help.

Die nuwe bekleër sal die besoedelde NVG-stal moet skoonmaak om ’n strafregstelsel te kan bou waarop ons almal trots kan wees en waarbinne ons veilig kan voel. Die agteruitgang daarvan die afgelope tien jaar was verskriklik.

Volgens Kriegler sal die uiteindelike besluit egter baie moeilik wees. “Dié persoon sal die hele strafregstelsel moet regruk. Die werk wat daarvoor voorlê, is enorm.”

Dr. Llewelyn Curlewis, senior dosent in strafreg aan die Universiteit van Pretoria, stem saam dat die NDOV-pos uiters belangrik is.

“As die regte persoon nie aangestel word nie, is ek bevrees dat die strafregstelsel in sy huidige stand nie vir nog vyf jaar sal oorleef nie.”

Volgens Curlewis is die belangrikste aspek dat daar weer ’n vorm van verantwoordelikheid in die NVG moet posvat omdat dit die afgelope dekade ’n kwessie van elkeen vir homself was en omdat die belange van die land of die strafregpleging nie eerste gestel is nie.

Volgens hom moet die nuwe NDOV vir lank in die pos aanbly om stabiliteit en beslissende leierskap daar te hervestig.

“Die persoon moet apolities wees en sonder vrees of begunstiging die moed van sy of haar oortuiging hê om die regstaatsbeginsel bo sy of haar eie belange te stel.”

Volgens Curlewis sal dit ook ideaal wees as die nuwe NDOV uit die aanklaers-gelede kom om die nodige respek onder sy of haar kollegas te kan afdwing.

Llewellyn Prince, Sarel van der Walt, Jana Marx en News24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.