Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nuwe SAL: Klippe op aanloopbaan

Die planne om 51% van die SAL aan ’n private vennoot af te staan en die lugdiens in die toekoms op die Johannesburgse aandelebeurs (JSE) te noteer, is ingrypend en belowend, maar deurslaggewende besluite moet nog geneem word voordat ’n mens opgewonde daaroor kan raak.

Dit gaan ook bitter moeilik vir die SAL wees om weer ’n vastrapplek in die lug te kry. Die binnelandse mark het aansienlik gekrimp weens Covid-19 en sedert die SAL sy vlugte gestaak het. Die mededinging is uiters straf, sê ontleders.

“In 2019, toe die SAL nog gevlieg het, was daar gemiddeld 54 vlugte per dag tussen Johannesburg en Kaapstad. Daar is nou tussen 20 en 25. En daardie vlugte vlieg meestal omdat dit vir die huidige lugdienste kleiner verliese beteken om te vlieg as om hul vliegtuie op die grond in stand te hou – nie omdat hulle geld maak nie,” sê een van die land se voorste lugvaartkenners. Sy naam mag weens kontraktuele verpligtinge nie gepubliseer word nie.

Die internasionale mark gaan op die vroegste in die tweede helfte van 2023 herstel.

Dit beteken nie noodwendig dat hy beheer afstaan nie.

“’n Mens moet ook versigtig wees voordat jy opgewonde raak daaroor dat die regering die meerderheidsbelang in die SAL afstaan. Dit beteken nie noodwendig dat hy beheer afstaan nie,” het dié ontleder gesê.

Die meerderheidsbelang van 51% gaan besit word deur die Takatso-konsortium wat bestaan uit Harith, eienaar van die Lanseria-lughawe, en Global Airways, ’n verhuurder van passasierstralers wat ook die nuwe binnelandse lugdiens Lift besit.

Lift se uitvoerende hoof, Gidon Novick, gaan ook uitvoerende hoof van Takatso wees en sal waarskynlik die nuwe SAL bestuur. Hy is ook die stigter van kulula.com en voormalige uitvoerende hoof van Comair. Hy word as een van die bekwaamste bestuurders in die bedryf beskou.

Die regering gaan 49% van die SAL behou. ’n Notering op die JSE word in die vooruitsig gestel, want die R3 miljard wat Takatso in die SAL gaan belê, sal nie naastenby genoeg wees om die lugdiens weer volhoubaar in die lug te kry nie.

Die regering behou ’n “goue belang” van 33%, het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Vrydag in sy aankondiging gesê.

Dit beteken die regering se aandeel van 49% kan verwater word deur nuwe aandele uit te reik, maar dit mag nie tot minder as 33% daal nie.

“Die groot vraag wat nog beantwoord moet word, is wat die regering se goue aandeel van 33% beteken? In watter mate gaan die regering beheer behou? Daaroor is nog geen finaliteit bereik nie. Totdat dit beslis is en ’n ooreenkoms onderteken is, is dit nog glad nie duidelik wat gaan gebeur nie,” het die ontleder gesê.

Verskeie waarnemers is bekommerd daaroor dat Tshepo Mahloele, medestigter van Harith en ’n voormalige fondsbestuurder by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), ook voorsitter van die Takatso-konsortium gaan wees. Die OBK besit 30% van Harith.

Alf Lees, DA-woordvoerder oor die SAL, het daarop gewys dat die OBK in 2006 R17 miljoen se finansiering aan Harith verskaf het, terwyl Jabu Moleketi, destyds adjunkminister van finansies, voorsitter van die OBK was. Moleketi is deesdae voorsitter van Harith General Partners.

Mahloele was in sy tyd as fondsbestuurder by die OBK onder meer verantwoordelik om die korporasie se strategie vir swart ekonomiese bemagtiging in werking te stel.

“Wanneer die ANC vennootskappe met die private sektor aangaan, is dit altyd die grootkoppe wat die meeste daarby baat vind,” aldus Lees.

Joachim Vermooten, onafhanklike lugvaartkenner, sê dit bly moontlik dat die regering by die nuwe SAL sal inmeng. “Dit is vir seker binne hul vermoë. Die tyd sal leer.”

Gordhan het op Vrydag se mediakonferensie gesê die regering sal nie langer ’n finansier wees vir die nuwe lugdiens nie. “Ons moes ’n streep trek,” sê hy.

Dis nie die eerste keer dat ’n minister dit van die SAL sê nie. En niks in Vrydag se aankondiging keer die regering om weer geld in die SAL te steek nie.

Gordhan het Vrydag benadruk dat die regering steeds moet pa staan vir vrywillige skeidingspakkette en skikkings met onder meer vakbonde en die Suid-Afrikaanse Vlieëniersvereniging (Saapa) vir uitstaande salarisse, toelaes en byvoordele ingevolge die sakereddingsplan wat in 2020 goedgekeur is.

Die SAL se 17 maande lange sakereddingsproses is in April vanjaar voltrek. Die regering moet nog R14,5 miljard opdok om onder meer pakkette uit te betaal en skuldeisers te vergoed.

Vermooten het gesê dit is positief dat belastingbetalersgeld nie veel langer in ’n verliesmakende lugdiens ingestoot sal word nie.

Hy meen ook Novick en Mahloele sal die nuwe lugdiens benader uit ’n kommersiële oogpunt en nie polities nie. “Albei kom uit die private sektor en hulle sal ’n opbrengs op hul kapitaal wil genereer.”

Gordhan het gesê die volgende stap in die bekendstelling van die nuwe lugdiens is dat die konsortium ’n noulettendheidstudie sal doen – ook van die SAL se filiale, soos SAL Tegnies, Air Chefs en Mango.

Mango is tans in sakeredding en afhanklik van ’n reddingsboei van die regering om in die lug te kan bly. Talle vlugte is sedert April óf opgeskort óf vertraag omdat Mango nie sy dienstariewe aan die lughawensmaatskappy Acsa betaal het nie. Vlugte is later hervat nadat ’n ooreenkoms tussen die partye bereik is.

“Ons sal eers oor ’n paar weke kan sê waar Mango in die prentjie inpas. Enigiets is moontlik,” aldus Gordhan.

Vermooten sê ook tussen die drie lugdienste – die nuwe SAL, Lift en Mango – sal daar ’n skikking moet plaasvind. “Dit is nog ’n item wat afgehandel moet word.”

Die kooptransaksie met die konsortium sal eers onderteken word nadat die noulettendheidstudie voltooi is.

Justine Hoppe, direkteur by Mazars, ’n finansiëledienstemaatskappy, waarsku dat die besonderhede nog openbaar gemaak moet word, soos verdere finansiering ná die aanvangskapitaal van R3 miljard, en hoe die lugdiens herskik sal word.

Die konsortium het gesê hy wil die SAL so gou as moontlik op dreef kry met vasgestelde roetes, ’n vloot vliegtuie en ’n plan vir indiensneming.

Gordhan het beklemtoon die regering sal ’n belangrike aandeelhouer in die nuwe SAL bly deurdat hy sal verseker die lugdiens bly ’n nasionale lugdiens, dat dit in Suid-Afrika gevestig bly en dat by transformasie-doelwitte gehou word.

“Die direksie en bestuur van die nuwe lugdiens sal ’n meerderheid swart Suid-Afrikaners wees,” het Gordhan gesê.

Meer oor:  Pravin Gordhan  |  Gidon Novick  |  Jabu Moleketi  |  Sal  |  Lugdiens  |  Lift  |  Takatso
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.