Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nuwe ‘sentrum’ kan dalk permanent help teen korrupsie

Die regering oorweeg dit om die multi-dissiplinêre sentrum wat bewerings van Covid-19-korrupsie ondersoek, permanent te maak om korrupsie te bekamp, het Ronald Lamola, minister van justisie, Donderdag gesê.

Business Day het berig die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het ’n beroep op die regering gedoen om ’n agentskap soos die Skerpioene van ouds te stig om korrupsie te beveg.

Ronald Lamola
Ronald Lamola

Op ’n vraag op die konferensie oor die moontlikheid dat ’n soortgelyke agentskap in die lewe geroep kan word, het Lamola na die multi-dissiplinêre sentrum verwys.

Dié sentrum is in die kantoor van die Finansiële Intelligensiesentrum gesetel en bestaan uit nege wetstoepassingseenhede.

Die doel van die sentrum is om onder meer die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die nasionale vervolgingsgesag (NVG), die Valke, die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) en die spesiale ondersoekeenheid (SOE) nouer te laat saamwerk.

Lamola het ook gesê die land het ’n permanente struktuur soos die multi-dissiplinêre sentrum nodig.

Dit moet nog ’n duidelike wetlike raamwerk en mandaat kry en daar is nog kwessies wat uitgestryk moet word.

“Ons wil hê die sentrum moet organies groei. Dit moet nog ’n duidelike wetlike raamwerk en mandaat kry en daar is nog kwessies wat uitgestryk moet word. Die kabinet kyk daarna,” het Lamola gesê.

Jean Redpath, ’n navorser van die Dullah Omar-instituut by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), sê dis moeilik om te sê of so ’n multi-dissiplinêre sentrum suksesvol sal wees om korrupsie te beveg omdat daar nog min inligting bekend is oor hoe dit werk.

“Die eenheid sal wel ’n verskil kan maak as dit daartoe lei dat ondersoekers en aanklaers nouer saamwerk.

"Die grootste probleem bly die gebrek aan kapasiteit by die NVG, want sake wat deur ondersoekagentskappe verwys word, hoop op.”

Redpath sê die nuwe struktuur kan nie met die Skerpioene vergelyk word nie.

Die Skerpioene was ’n direktoraat van die NVG wat deur oudpres. Thabo Mbeki in die lewe geroep is om georganiseerde misdaad en korrupsie te takel.

Dit lyk of die multi-dissiplinêre sentrum breedweg sake ondersoek waar korrupsie gepleeg is en nie, soos in die geval van die Skerpioene, ’n saak bou om bepaalde misdadigers nie.

Die ANC het egter op sy konferensie van 2007 in Polokwane, toe Jacob Zuma tot president van die party verkies is, besluit om die Skerpioene te ontbind. Hulle was in daardie stadium besig om korrupsiebewerings teen Zuma te ondersoek.

Hoewel mense dikwels deur rooskleurige brille na die Skerpioene kyk, sê Redpath dié direktoraat het belofte getoon omdat aanklaers nouer met ondersoekers in spanne in die eenheid saamgewerk het. Aanklaers het ondersoekers gelei oor watter bewyse benodig word om waterdigte sake te bou.

“Dit lyk of die multi-dissiplinêre sentrum breedweg sake ondersoek waar korrupsie gepleeg is en nie, soos in die geval van die Skerpioene, ’n saak bou om bepaalde misdadigers nie.

“Boonop rapporteer die betrokkenes by die sentrum steeds ingevolge die wet aan hul onderskeie wetstoepassingseenhede en nie aan die sentrum nie. Almal wat betrokke was by die Skerpioene het aan dié eenheid gerapporteer,” sê Redpath.

Meer oor:  Ronald Lamola  |  Covid-19  |  Koroanvirus  |  Covid-Bedrog  |  Tenderbedrog  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.