Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nuwe toestelle sal help met registrasie van kiesers – OVK

Die Verkiesingskommissie (OVK) het sowat 40 000 toestelle aangekoop wat ingespan sal word met die registrasie van kiesers vir vanjaar se plaaslike verkiesing op 27 Oktober.

So het Sy Mamabolo, die hoofkiesbeampte, Vrydag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake gesê toe die OVK ’n voorlegging oor sy begroting gedoen het.

Die begroting beloop R2,3 miljard nadat besnoeiings van R663 miljoen weens die huidige finansiële situasie en die gebrek aan geld in die fiskus aangebring moes word.

Mamabolo sê die toestelle sal slegs gebruik word om kiesers te registreer.

Op plekke waar die toestelle aanlyn gekoppel kan word, sal kiesers binne minute ’n boodskap ontvang dat hulle geregistreer is.

Kiesers wat op plekke registreer waar daar nie ’n verbinding is nie, sal ’n bewys van registrasie ontvang sodra die toestel later wel aanlyn gekoppel kan word.

Die nuwe stelsel kos R620 miljoen, maar Mamabolo sê dit is ’n belegging vir die toekoms omdat dit later ook met ander verkiesings en tussenverkiesings gebruik sal word.

Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte van die Verkiesingskommissie. Foto: Deaan Vivier, Argief

Mamabolo het aan die komitee gesê die eerste van die 40 000 toestelle word later vandeesmaand verwag en die OVK hoop om al die toestelle teen die middel van Junie te hê.

Die toestelle sal op stemdag slegs gebruik word om seker te maak kiesers het by die regte stembus in die regte wyk opgedaag.

“Kiesers sal steeds soos in die verlede hul kruisies op papier trek.”

Daar word wel na die moontlikheid gekyk dat kiesers in die toekoms elektroniese stemme sal kan uitbring.

Die OVK sê hy sal later aan die parlementêre komitee ’n voorlegging doen oor watter moontlikhede daar is om kiesers elektronies te laat stem.

Om finansiële redes sal daar vanjaar net een registrasienaweek wees en nie twee soos met vorige verkiesings nie.

“Ons hoop om die datum vir die registrasienaweek binne die volgende paar dae bekend te maak.

“Kiesers hoef egter nie net tydens die registrasienaweek te registreer nie. Hulle kan dit intussen ook by munisipale kantore doen.

“Ons beplan ook dat hulle dit later aanlyn ook sal kan doen,” het Mamabolo gesê.

“Ons ondersoek tans in samewerking met politieke partye die moontlikheid dat in die lig van die Covid-19-pandemie mense in sekere ouderdomsgroepe en mense met komorbiditeite vooraf spesiale stemme sal kan uitbring.

“Ons bespreek dit ook nog met die nasionale tesourie,” het hy gesê.

Dit sal help keer dat daar op stemdag ’n te groot toestroming van kiesers by die sowat 20 000 stempunte landwyd is.

Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, het gesê tradisioneel neem meer kiesers aan die plaaslike verkiesing deel as aan die nasionale en provinsiale verkiesings.

“Met die laaste twee plaaslike verkiesings was die stempersentasie in die omgewing van sowat 58%. Ons hoop om dit vanjaar tot oor die 60% te verhoog.”

’n Omvangryke kommunikasieveldtog word onder meer in die vooruitsig gestel.

Meer oor:  Politiek  |  Registrasie  |  Kieserregistrasie  |  Stem  |  Munisipale Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.