Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nuwe VSA-ambassadeur op pad SA toe

Die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Lana Marks, sal na verwagting Saterdag in die land aankom.

Die ambassadeur het ’n foto van haarself op ’n Delta-vlug geplaas met die onderskrif: “En ons is op pad! Ons kan nie wag om in Suid-Afrika aan te kom en ons nuwe reis saam te begin nie!”

Die Amerikaanse senaat het Marks se aanstelling in September bekragtig nadat pres. Donald Trump haar vir die diplomatieke pos in Pretoria benoem het.

Marks sê haar topprioriteit sal die “veiligheid en sekuriteit van alle Amerikaners in Suid-Afrika” wees.

Die foto wat die nuwe Amerikaanse ambassadeur, Lana Marks, op Instagram gedeel het. Foto: Instagram / Lana Marks

Sy beplan ook om op handelsverhoudinge, die stryd teen MIV en vigs, asook die bemagtiging van vroue en kinders te fokus.

Marks het bande met Suid-Afrika omdat haar pa in die 1930’s hierheen geëmigreer het om anti-Semitisme in Litaue te ontsnap, het sy in ’n verklaring voor die senaat se buitelandse komitee gesê nadat Trump haar benoem het.

Marks is in 1953 in Oos-Londen gebore, waar sy die Sterling Primary School en Clarendon High School bygewoon het.

Sy kan volgens Herald Live Xhosa en Afrikaans praat.

Marks het in ’n onderhoud aan Business Day gesê sy was lid van die Royal Academy of Ballet se Suid-Afrikaanse filiaal in Oos-Londen.

In 1976 is sy met Neville Marks, ’n psigiater, getroud en die egpaar het na Bermuda, ’n Britse eiland, getrek.

Volgens Marks se verklaring het die paartjie Bermuda verlaat toe haar man ’n professoraat in die VSA aangebied is.

Hulle het in Palm Beach, Florida, gewoon en Marks is ’n lid van Trump se eksklusiewe Mar-a-Lago-klub.

Marks is eintlik bekend vir ’n sakeryk wat op ontwerpershandsakke gebou is.

Haar handsakonderneming, Lana Marks, maak handsakke wat vir tussen R10 000 en R50 000 verkoop, met ’n ikoniese Cleopatra-palmhandsakkie wat tot R1 miljoen kos.

Marks het die onderneming in 1984 begin toe sy nie ’n toepaslike handsak kon vind vir die koningin van Engeland se verjaardagpartytjie nie.

Sy het tans handsakwinkels in Palm Beach, New York, Beverly Hills en Dubai. –

Saamgestel deur Nicole McCain, News24

Meer oor:  Lana Marks  |  Vsa-Ambassadeur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.