Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NVG-adjunkhoof tree af

Pres. Cyril Ramaphosa het adv. Silas Ramaite, adjunkdirekteur van openbare vervolging, se versoek om vroeë aftrede aanvaar.

Ronald Lamola, minister van justisie, sal Ramaite Maandag by die Justice College se program vir aspirant-aanklaers in Pretoria groet.

Ramaite, oudpres. Thabo Mbeki se aanstelling, dien sedert 2003 in die nasionale vervolgingsgesag (NVG).

Adv. Silas RamaiteFoto: NVG

Hy is tans verantwoordelik vir administrasie en die kantoor vir getuiebeskerming en het al drie maal as hoof van openbare vervolging waargeneem.

Hy het ingestaan ná die bedankings van advv. Bulelani Ngcuka in 2004 en Mxolisi Nxasana, wat in 2015 sy pos ontruim het in ruil vir ’n goue handdruk.

Die laaste keer was toe adv. Shaun Abrahams in die pad gesteek is nadat die konstitusionele hof in Augustus 2018 gelas het dat sy aanstelling onwettig en ongeldig was. Ramaite het waargeneem in die tyd dat Ramaphosa ’n plaasvervanger vir Abrahams gesoek het. Adv. Shamila Batohi is as die nuwe vervolgingshoof aangestel.

Ramaite het sy loopbaan as ’n tolk en klerk in die hof begin en in 2001 senior staatsadvokaat-status gekry.

Hy het ook as ’n landdros gewerk en ’n doktorsgraad in grondwetlike reg aan die Universiteit van Suid-Afrika behaal.

In 1997 was Ramaite die getuienisleier in ’n kommissie van ondersoek en is ook deur die president aangewys om ’n saak van die Waarheid-en-versoeningskommissie te ondersoek.

Ramaite het in 2011 nuusopskrifte gehaal toe hy na bewering met sy Jaguar in ’n ander voertuig vasgery het.

Dronkbestuur is vermoed, hy is in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat. Die klagte teen hom is later voorlopig teruggetrek. Hy was toe een van Menzi Simelane, destydse NDOV, se adjunkte.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Silas Ramaite  |  Nvg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.