Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NVG gaan De Lille nie vervolg nie

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het Woensdag gesê hy gaan Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur en Good-leier, nie vervolg oor strafregtelike klagte wat verband hou met die opgraderings by haar huis in Pinelands en die beweerde poging om omkoopgeld te verkry nie.

Die klagte spruit uit die tyd toe De Lille die burgemeester van Kaapstad was en in ’n politieke stryd met haar voormalige party, die DA, gewikkel was.

Die NVG in die Wes-Kaap het Woensdag aangekondig dat die sake deur die Valke ondersoek is en toe na die NVG se gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid verwys is.

Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, het gesê ’n senior staatsadvokaat is aangewys om die saak te hanteer en daar is bevind dat daar geen redelike vooruitsigte vir ’n suksesvolle vervolging is nie.

Die sake hou verband met ’n beweerde oortreding rondom veiligheidsopknappings wat by De Lille se huis gedoen is en ’n klag dat sy in 2013 probeer het om omkoopgeld van ’n onsuksesvolle diensverskaffer van Kaapstad-metro te bekom.

“Nadat ons al die getuienis en die handelsmisdaadeenheid se aanbevelings deeglik oorweeg het, het die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) bevind dat daar geen redelike vooruitsigte vir ’n suksesvolle vervolging is nie en gevolglik geweier om enige persoon in verband met die twee sake te vervolg,” het Ntabazalila gesê.

Volgens hom ondersteun die bewyse nie die bewering dat dienste wat verband hou met opknapping van De Lille se huis onreëlmatig verkry is nie.

“Daar is ook geen bewyse dat De Lille enige rol in die opknappingsproses gespeel het nie.”

Oor die bewering dat De Lille ’n paar jaar gelede probeer het om omkoopgeld van ’n Johannesburgse sakeman, Anthony Faul, te bekom, het die NVG ook bevind dat daar geen redelike vooruitsig is dat die NVG daarin sou slaag om die bewering te bewys nie in die lig van bewyse wat die klagte weerspreek.

Intussen het Good die besluit verwelkom en gesê dat dit geensins verbasend is dat die NVG besluit het om nie hul leier te vervolg nie.

“Vandag het die NDOV bevestig wat ons al lankal geweet het – dat die DA se aantygings teen die Good-leier, Patricia de Lille, loutere leuens was,” het Brett Herron, Good se sekretaris-generaal, gesê.

Hy sê die NDOV-besluit wys duidelik dat die DA bloot die klagte teen De Lille opgemaak het.

“Dit is skandelik dat die DA die mense van Kaapstad se vertroue so misbruik het. Die feit is dat hulle ’n saak teen haar moes maak omdat die werklike redes vir hul besluit polities was en hulle in die verleentheid gebring het.”

Herron sê stadig maar seker sal die DA en hul kullery blootgestel word en meer leuens gaan binnekort op die lappe kom.

“Intussen fokus De Lille daarop om by te dra tot die opbouing van ons land en die ekonomie en om ’n ruimtelike, sosiale en ekonomiese regverdige Suid-Afrika te skep,” het hy gesê.

Die DA kon Woensdagaand nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Nvg  |  Patricia De Lille  |  Huis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.