Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NGV: Kwellende vrae oor koste hang nog in die lug

Die enorme mediese fonds wat die staat wil skep, is veronderstel om jou minder te kos as wat jy tans aan mediese uitgawes betaal, het die staat Donderdag gepaai.

Dr. Zweli Mkhize

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, die adjunkminister, en dr. Anban Pillay, adjunk-direkteur-generaal van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), moes tydens die bekendstelling van die hersiene wetsontwerp oor die NGV bontstaan met antwoorde oor die koste. Dít omdat die wetsontwerp toon ’n bykomende belasting gaan dalk hiervoor gehef moet word.

Die wetsontwerp, wat Donderdag ook in die parlement ter tafel gelê is, maak voorsiening vir die oprigting van die NGV-fonds en bepaal hoe dit bedryf gaan word. Anders as met die vorige wetsontwerp stippel dit baie duideliker uit watter inkomstebronne hiervoor gebruik gaan word.

Die probleem is dat niemand nog weet wat dit gaan kos nie omdat die tesourie ’n hersiene kosteberaming moet afhandel.

Die wetsontwerp lui nou dat die fonds geregtig sal wees op geld wat jaarliks deur die parlement bewillig word en dat die geld afkomstig sal wees van die volgende bronne:

  • Algemene belastinginkomste, insluitend die verskuiwing van geld wat nou aan provinsies en die nasionale departement van gesondheid toegewys word;
  • Die belastingkrediete wat mediesefondslede tans ontvang, wat sal wegval. Op die oomblik kry die hooflid en eerste bykomende lid ’n belastingkorting van R310 elk en bykomende afhanklikes R209 elk;
  • ’n Betaalstaatbelasting, dus ’n heffing wat werkgewers en personeel sal moet betaal; en
  • Bykomende persoonlike belasting, wat aangekondig sal word deur die minister van finansies.

In die verduideliking oor die doelstellings van die wetsontwerp word gesê in die finale fase van inwerkingtreding van die NGV “sal daar in ’n gunstige ekonomiese omgewing begin word met die evaluering van nuwe belastingopsies vir die fonds, insluitend die bykomende persoonlike inkomstebelasting of ’n klein betaalstaatbelasting”.

Mkhize het gemaan dat mense eers moet wag vir die hersiene kosteraming van die tesourie voordat hulle op hol gaan oor belasting en wat dit gaan kos.

Hersiene wetsontwerp ‘is onduidelik’

Dr. Jonathan Broomberg, uitvoerende hoof van Discovery Health, die administrateur van die grootste mediese skema in die land, het gesê die wetsontwerp bevat baie detail en meer kommentaar sal later gelewer word.

“Oor die toekomstige rol van mediese skemas bestudeer ons nog die wetsontwerp omdat dit nie heeltemal duidelik is nie.” Hulle sal eers in besonderhede kommentaar kan lewer as daar meer duidelikheid is.

“Ons glo vas sodra mense bydra tot die NGV, moet hulle die vryheid hê om dekking te koop van mediese skemas vir enige gesondheidsdiens, insluitend dit wat NGV gaan bied.”

Mediclinic wil ook verdere duidelikheid hê oor aspekte soos die “belangrike rol van mediese skemas asook die voertuig wat gebruik gaan word om verskaffers in die openbare en private sektor te kontrakteer”.

“Dit is ook belangrik dat die bedryf verstaan watter voordele deur die fonds gedek gaan word en hoe die fonds gefinansier gaan word.”

Siviwe Gwarube van die DA het in ’n verklaring gesê die wetsontwerp het nie veel verander van die “problematiese weergawe” wat verlede jaar uitgereik is nie.

In 2017 is daar geraam dat die begroting vir gesondheid teen 2026 nagenoeg R256 miljard sal beloop en ’n tekort aan finansiering van sowat R27,6 miljard gaan vir die NGV bestaan.

Dit is hoe die tekort gefinansier moet word waarvoor verskillende opsies en die impak daarvan ondersoek moet word.

Mkhize sê die idee met die NGV is dat die totale besteding op gesondheidsorg in die land saamgegooi word om vir almal dieselfde gesondheidsdienste te koop sodat die ongelykheid in besteding en hulpbronne aangepak kan word.

Mediese fondse dek net sowat 8 miljoen mense of 16% van die bevolking, maar beloop omtrent die helfte van die besteding aan gesondheidsorg. Die staat moet 85% van die bevolking met die ander helfte van die geld dek.

“Ek wil dit beklemtoon dat dít wat in die vooruitsig gestel word nie noodwendig behels om na nuwe geld te kyk nie.”

Phaahla sê die kritiek op die NGV verloor uit die oog dat daar tans sowat R460 miljard op gesondheidsorg in die land deur sowel die staat as die private sektor bestee word.

Hy sê die NGV is bedoel om die geld doeltreffender aan te wend.

“Ons praat van die herverspreiding van bestaande bronne om gelykheid te kry.

“Die wetsontwerp praat van belastinginkomste wat daarvoor gebruik gaan word en ’n betaalstaatbelasting, maar die meeste van die geld bestaan reeds.

“Jy gaan dalk opeindig met die helfte van wat jy nou betaal omdat jou bydrae saam met die geld afkomstig van die fiskus gegooi word. Wat in die vooruitsig gestel word, is dat dit nie vir individue méér kos nie,” sê Phaahla.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.