SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
NVG na tesourie vir raad oor private finansiering

Private finansiering vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG) is ’n “sensitiewe saak” en daarom word dit met die nasionale tesourie bespreek.

Dit was Dinsdag Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, se antwoord op vrae op ’n mediakonferensie by die parlement ná afloop van sy begrotingsrede.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe diensteFoto: GCIS

Lamola het in sy begrotingstoespraak daarop gewys dat baie meer gedoen moet word ten opsigte van hulpbronne vir die NVG sodat die vervolgingsgesag sy werk kan doen. In die lig van fiskale tekorte sal die departement met die nasionale tesourie in gesprek tree om die “versoek vir en gevolge van finansiering deur private skenkers” beter te verstaan.

Daar sal ook gepoog word om nie die onafhanklikheid of integriteit van die vervolgingsgesag te ondermyn nie, het hy in sy toespraak gesê.

Lamola het in reaksie op vrae op die mediakonferensie gesê die kwessie van finansiering deur private skenkers is sensitief omdat die NVG onafhanklik moet bly in sy werksaamhede en wat sy besluite betref. Private finansiering mag nie tot die kaping van die NVG lei nie.

“Ons is dus in gesprek met die nasionale tesourie om te bepaal hoe ons kan verseker dat private skenkings nie die onafhanklikheid van die NVG in die gedrang bring nie. Die werklikheid is egter dat die NVG ’n geldtekort ervaar en ons gaan vra dat die nasionale tesourie ons raad gee oor die kwessie van private skenkings. Die NVG sukkel en die geld is werklik nodig.”

Terwyl begrotingsperke oor alle staatsdepartemente heen strek, sukkel die NVG ook “met die maatskaplike verwagting” dat hy met die stryd teen korrupsie moet help.

“Vir dít om te gebeur het die NVG geld nodig. As die fiskus dit nie het nie, moet private skenkers ons kan help – maar hoe verseker ons die NVG se onafhanklikheid?”

Die bevriesing van poste sedert 2015 het daartoe gelei dat daar 685 vakante poste vir staatsaanklaers is. Dié toedrag van sake moet volgens Lamola heroorweeg word sodat die NVG meer middelvlak- tot senior poste in gespesialiseerde eenhede kan vul.

Adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolgings, het op dieselfde mediakonferensie gesê die departement van justisie het R38 miljoen vir die nuwe spesiale ondersoekdirektoraat in die NVG beskikbaar gestel.

“Dit is nie baie geld nie. Soos baie van julle weet, is hierdie ondersoeke ingewikkeld en duur. In dié stadium is dit vir die aanvangskoste (van die ondersoeke).”

’n Poging is volgens haar ook aangewend om geld vir die nuwe direktoraat uit die strafregtelike bateherwinningsfonds te bekom vir die eerste jaar van sy werksaamhede. Na raming is meer as R200 miljoen oor die volgende drie jaar vir dié spesiale ondersoekdirektoraat nodig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.