Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NVG onder druk oor uittog van staatsaanklaers
Adv. Shamila Batohi
Adv. Shamila Batohi

As die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nie dringend finansiële ondersteuning kry nie, sal hy nie in staat wees om misdaad doeltreffend te kan vervolg nie, waarsku adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV).

Batohi het dié dreigende krisis Dinsdag aan die groot klok gehang toe sy die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste oor die NVG se jaarlikse prestasieplan en begroting toegespreek het.

Volgens haar het die geldtekort ’n massiewe impak op NVG-bedrywighede en is meer as 20% van die instelling se poste tans vakant.

Die komitee het gehoor hoe die NVG-begroting van R3,9 miljard vir die 2019-2020-boekjaar sowat R121,5 miljoen minder is as die instelling se geprojekteerde uitgawes.

Dit kan die NVG glo dwing om oor die volgende drie jaar van nog 550 aanklaers ontslae te raak as hy binne sy huidige begroting wil bly.

Batohi het gesê sowat 600 aanklaers het die NVG die laaste paar jaar verlaat.

“Ons probeer ervare aanklaers hou, maar omdat ons weens ’n bevriesing van poste nie nuwe aanklaers kan werf nie, kan ons ook nie die bestaandes bevorder nie.

“Dit maak dat veral seksuele en gendergebaseerde sake en veediefstalsake in landelike gebiede nie die vereiste aandag kry nie.

“Ten spyte van die gebrek aan hulpbronne, moet ons met ’n plan vorendag kom en sleutelgebiede prioritiseer.”

Ten spyte van die gebrek aan hulpbronne, moet ons met ’n plan vorendag kom en sleutelgebiede prioritiseer.

Volgens Batohi oorweeg sy nog hoe om van bevlekte NVG-personeel ontslae te raak omdat “dit baie moeilik en ingewikkeld is om in ’n organisasie te werk waar jy nie weet wie om te vertrou nie”.

Sy meen dit móét egter gedoen word om die geloofwaardigheid van die NVG te herbou.

Oor die vervolging van vermeende staatskapers en korruptes het Batohi gesê die nuwe ondersoekende direktoraat in die NVG is besig om sake in dié verband vir vervolging te identifiseer. Sy meen dié direktoraat is egter net ’n korttermyn-ingryping.

Die direktoraat sal veral fokus op die vervolging rakende staatskaping en korrupsie in die wetstoepassingsagentskappe, staatsentiteite en ander hoëvlak-korrupsie in die regering en private sektor.

Batohi meen die regering, die parlement, die verskillende kommissies wat staatskaping en korrupsie ondersoek en alle ander belanghebbendes moet daarom saamwerk aan ’n langtermynoplossing om staatskaping en korrupsie in die toekoms te verhinder.

Sy meen dit is ook uiters belangrik om die nodige internasionale samewerking te bekom, veral om gesteelde staatsgeld uit die buiteland te kan verhaal en om vermeende oortreders vir vervolging aan Suid-Afrika uit te lewer.

Adv. Hermione Cronje, hoof van die ondersoekende direktoraat, het saamgestem dat dit net ’n korttermyn operasionale ingryping teen staatskaping is.

Cronje het dit ook duidelik aan die komitee gemaak dat nie almal wat deel van staatskaping was vervolg sal kan word nie en dat daar daarom geprioritiseer moet word.

“Dit is net nie moontlik nie. Daarom moet ons realisties wees oor hoe ons die probleem gaan oplos. Dit is die kwessies waarmee ons tans worstel,” het Cronje gesê.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.