Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NVG se derde bloedneus ‘ ’n verleentheid’

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se bloedneus in die hooggeregshof in Bloemfontein is ’n “verleentheid”, sê Themba Godi, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor).

Sy reaksie volg nadat die hof Maandag die NVG se voorlopige bewaringsbevel op bates van die Guptas ter waarde van R250 miljoen tersyde gestel het.

Themba Godi, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge.

Die beslagleggingseenheid van die NVG het die bates, onder meer ’n luukse Bombardier-straler, motors en byna 40 eiendomme voorlopig bevries hangende sy ondersoek na die Estina-suiwelplaasprojek in Vrede in die Vrystaat.

Regter Philip Loubser het egter bevind die NVG het te min getuienis aangebied vir hom om dié bevel te bekragtig.

Skoor ondersoek verskeie staatsentiteite wat onder meer glo kontrakte van miljoene rand met die Guptas aangegaan het.

“Kyk, gister (Maandag) was ’n kritieke uitspraak. Die feit dat die NVG verloor het op grond van feitlike en prosedurele kwessies is ’n verleentheid.”

Godi meen die uitspraak verlig nie die land se anti-korrupsiestryd nie en skep eerder ’n presedent waar misdadigers dalk nou onder die indruk kom dat hulle korrupsie kan vryspring.

“Dit het niks te doen met staatskaping nie,” het Godi by navraag gesê. “Dit gaan oor die NVG se onbevoegdheid.”

Nóg kritiek teen die NVG kom van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa).

Wayne Duvenhage van die Organisasie teen Belastingmisbruik. Foto: Christiaan Kotze

Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa, sê dié uitkoms is die gevolg van ’n “swak voorbereide saak deur die beslagleggingseenheid wat gejaagd oorgekom het”.

Vaardigheid is weggekalwe. “Die suiwering en gebrek aan forensiese ouditvaardighede en ervaring in die owerhede in die Zuma-era speel homself nou uit.”

Dr. Theo Broodryk, hoof van die Universiteit Stellenbosch se regskliniek, meen die feit dat dit nie ’n strafsaak was nie, “neem nie weg van die feit dat die NVG se voorbereiding heeltemal gebrekkig was nie”.

Wat dié uitspraak volgens hom nog meer kommerwekkend maak, is dat die saak waaroor besluit moes word, nog nie eens in die hof was nie. “Die NVG moes Maandag net redelike gronde daarstel vir die hof om te glo strafregtelike aanspreeklikheid kan moontlik volg. Dis nie ’n definitiewe aanspreeklikheid nie. Die onus op die staat was taamlik laag en ’n mens wonder waarom hulle nie eens dit kon doen nie.”

“Weens die NVG se versuim is daar die moontlikheid dat geregtigheid nie gaan geskied nie.”

Broodryk het ook verwys na die uitstaande getuienis in die hof. “Regter Loubser het uitdruklik gesê as dit ingesluit was, kon dit sy besluit wesenlik beïnvloed het. Die NVG se rekord skep nie ’n goeie beeld nie en dit laat ’n mens wonder of die litigasie bekwaam bestuur word.”

Intussen sê die Guptas se regsverteenwoordiger hulle is verheug daaroor dat die Suid-Afrikaanse howe “die reg behoorlik toepas”, afgesien van die “negatiewe openbare mening oor hulle”.

Varun Gupta

Rudi Krause, die familie se prokureur, sê dit is die derde terugslag vir die NVG.

In Maart het die hof die bates wat die NVG in bewaring kon neem van R220 miljoen tot R40 miljoen verminder. En dan was daar die hof se toestemming aan Varun Gupta om Indië te besoek terwyl die saak voortgaan. “Die hof het die staat hier uitgedaag om getuienis bloot te lê wat hom impliseer in misdaad. Daar was geen inkriminerende getuienis teen hom nie.”

“Ná drie probeerslae moet dit begin duidelik word dat die NVG nie die nodige getuienis teen my kliënte het nie.”

Hy het die NVG verder daarvan beskuldig dat hy nie alle getuienis voor die hof gebring het nie.

“Regter Loubser het pertinent bevind die NVG kon geen verduideliking bied daarvoor dat hy nie vorige uitsprake (soos dié oor die Bank of Baroda) voor die hof geplaas het nie.”

Hy meen verder die regter moes ’n bestraffende kostebevel teen die NVG gemaak het.

Moet ons nie hierop oordeel - NVG

Adv. Luvuyo Mfaku, nasionale woordvoerder van die NVG, het by navraag gesê die uitspraak is nie ’n weerspieëling van die NVG se strafregtelike saak oor Estina nie. Volgens hom beoog die NVG steeds om bates in bewaring te neem.

By navraag oor hoe die NVG gaan verseker dat só ’n beslagleggingsbevel slaag, het Mfaku gesê dit is onmoontlik om ’n uitkoms van ’n saak te voorspel.

Hy meen die publiek en media kan geen vinger in die NVG se rigting wys voordat strafregtelike vervolging nie begin het nie.

Meer oor:  Nvg  |  Themba Godi  |  Wayne Duvenage  |  Varun Gupta  |  Hofbevel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.