Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NGV stuur af op ’n ramp, sê Zille

Nasionale gesondheidsversekering (NGV) gaan rampspoedig vir gesondheidsorg – maar veral vir armes in Suid-Afrika – wees, het Helen Zille in Kaapstad gesê.

Helen Zille Woensdag buite die parlement. Foto: Llewellyn Prince

Zille, tans senior beleidsgenoot by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) en voormalige Wes-Kaapse premier, het Woensdag die name van sowat 40 000 landsburgers by die parlement ingedien wat die instituut se alternatiewe voorstel vir die NGV ondersteun.

Sy het gesê soos die IRV meen dié 40 000 landsburgers dat daar volhoubare alternatiewe is wat meer bekostigbaar en doeltreffend kan wees.

“Die regering moet afsien van die opvatting dat hy die enigste is wat gesondheidsorg of ander dienste aan armes moet beheer.

“Ons sien reeds dat die NGV-loodsprojekte – waarin baie geld en hulpbronne gestoot is – niks anders as ’n ramp is nie. Daar was probleme met medisyne, asook langer rye en swakker dienslewering as ooit tevore.”

Volgens Zille sal die IRV se alternatiewe gewone Suid-Afrikaners werklike keuses oor hul gesondheidsorg gee, terwyl dit ook die private sektor in staat sal stel om die gesondheidsorgmark vir laerinkomstegroepe te betree om goeie en bekostigbare mediese produkte aan hulle te verskaf.

Die alternatief van die IRV, wat die 40 000 handtekeninge in ’n aanlyn veldtog gewerf het, stel voor dat toenemende openbare/private vennootskappe in gesondheidsorg, sowel as groter toegang tot private gesondheidsorg deur laekostemedieseskemas en primêregesondheidsversekering toegelaat word.

Daar word ook voorgestel dat verpligte lidmaatskap aan mediese skemas vir alle werkende mense oorweeg moet word.

Dr. Sibongiseni Dhlomo, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid, het Woensdag bevestig dat die spertyd vir geskrewe voorleggings deur die publiek op die NGV-wetsontwerp ná talle versoeke deur belanghebbendes van 11 Oktober tot 29 November uitgestel is.

“Die nuwe spertyd vir die geskrewe voorleggings raak nie die begin van die openbare sittings (oor die NGV) wat op 25 Oktober in Mpumalanga begin nie,” sê Dhlomo.

Sonder private gesondheidsorg sal gesondheidsorg in Suid-Afrika heeltemal in duie stort.

* Intussen het Philip van Staden, VF Plus-woordvoerder oor gesondheid, Woensdag gesê dat dié party hom van Dhlomo se uitlatings Dinsdag namens bogenoemde portefeuljekomitee distansieer.

Dhlomo sê dat die Mededingingskommissie se verslag oor sy markondersoek na die private gesondheidsorgbedryf daarop dui dat transformasie nodig is en dat ’n geheel nuwe orde vir die gesondheidsektor in Suid-Afrika daargestel moet word.

Die VF Plus is lid van die portefeuljekomitee, maar bestudeer nog die verslag.

“Maar in hierdie stadium wil dit voorkom asof die regering en die ANC hierdie verslag gebruik om die private gesondheidsorg behoorlik by te kom om die inwerkingstelling van die NGV te regverdig.

“Sonder private gesondheidsorg sal gesondheidsorg in Suid-Afrika heeltemal in duie stort. Voorstanders van die NGV gebruik nou hierdie verslag om die uiters swak toestande van openbare gesondheidsorg te probeer verbloem en om met ’n tipe heksejag teen die private gesondheidsorg die fokus te verskuif.”

Volgens van Staden is Dhlomo se uitsprake uiters voortydig aangesien die openbare deelnameproses nog nie begin het nie.

“Dr. Dhlomo se uitsprake maak dus voorspraak daarvoor dat die komitee, ongeag die insette in die openbare deelnameproses, in elk geval die NGV-wetsontwerp gaan aanvaar.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.