Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NVG werf topregslui om staatskapers te help vasvat

Dit lyk asof die nasionale vervolgingsgesag (NVG) uiteindelik sy tande slyp om vermeende staatskapers vas te vat deur die hulp van Suid-Afrika se topregslui te probeer kry.

Sunday Times berig van die regslui wat genader is, is onder andere adv. Wim Trengove SC, adv. Tembeka Ngcukaitobi, adv. Geoff Budlender SC en adv. Ngwako Maenetje SC.

Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement van justisie en korrektiewe dienste, wou nie by navraag dié name bevestig nie aangesien indiensnemingskontrakte nog nie onderteken is nie.

Phiri het wel bevestig dat die tesourie R25 miljoen daarvoor toegeken het.

“Die regslui sal help met ondersoeke om te sorg dat al die papierwerk reg is voordat die NVG hof toe gaan. In sekere gevalle sal die regslui gevra word om met vervolgings te help,” sê hy.

Die regslui sal help met ondersoeke om te sorg dat al die papierwerk reg is voordat die NVG hof toe gaan.

Die nasionale tesourie het ’n verdere R102 miljoen aan die NVG bewillig om sy hulpbrontekorte aan te vul en die nodige aanstellings in vakante poste te maak.

Uit dié bedrag word R38 miljoen toegeken aan die NVG se ondersoekdirektoraat, met Hermione Cronjé as hoof, wat gelas is om sake wat met staatskaping verband hou, te vervolg.

Druk op die NVG om op te tree teen vermeende staatskapers het toegeneem nadat die VSA verlede week sanksies teen die Gupta-familie en hul sakevennoot Salim Essa weens hul beweerde rol by staatskaping aangekondig het.

Phiri sê die tesourie se besluit om meer geld aan die NVG te bewillig hou nie verband met die VSA se aankondiging nie aangesien die beplanning om geld te kry reeds lank voor dié aankondiging gedoen is.

Hy het wel bevestig dat die NVG ’n aanbod van die VSA aanvaar het dat dié land met opleiding sal help. Volgens hom is dit nie ’n ongewone stap nie.

Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder, sê die bykomende finansiering, spesifiek om topregslui van buite die NVG aan te stel, is ’n groot stap in die regte rigting.

“Dit wys dat die NVG nie net lippediens betoon nie, maar bereid is om te betaal. Die bedrag wat dit kos, sal Suid-Afrika uiteindelik van die korruptes terugkry,” sê hy.

Mathekga het na die begin van oudpres. Jacob Zuma se verhoor op aanklagte van korrupsie, bedrog en rampokkery, Dinsdag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg verwys.

’n Volbank regters het Vrydag Zuma se aansoek om die aanklagtes teen hom te laat vaar geweier.

“Deur ’n voormalige president te vervolg, stuur die NVG ’n sterk boodskap dat hy op die regte koers is,” sê Mathekga.

Meer oor:  Nvg  |  Topregslui  |  Staatskapers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.