Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NVG wil glo op R50 miljard se bates beslag lê

Suid-Afrika se nasionale vervolgingsgesag (NVG) beplan om in die nabye toekoms op sowat R50 miljard se bates plaaslik en internasionaal beslag te lê in 17 sake van korrupsie en georganiseerde misdaad wat reeds daarvoor geïdentifiseer is.

Adv. Shaun Abrahams, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), onthul dít in die NVG se 2017-’18-jaarverslag wat onlangs by die parlement ingedien is.

Adv. Shaun AbrahamsFoto: Nico Gous

Abrahams het die NVG in Augustus verlaat nadat die konstitusionele hof in Johannesburg vroeër beslis het dat oudpres. Jacob Zuma hom in 2015 ongrondwetlik en onwettig aangestel het.

Pres. Cyril Ramaphosa het intussen dr. Silas Ramaite as waarnemende NDOV aangestel.

Abrahams was met die afsluiting van die 2017-’18-boekjaar in April vanjaar steeds die NDOV en het nog die jaarverslag opgestel.

Hy voer verder aan dat die NVG in 2017-’18 sy beste vlakke van skuldigbevindings in 20 jaar behaal het.

Moorde het in dié tydperk skuldigbevindings van 77,7% gehad, terwyl motorkapings, huisrooftogte en sakerooftogte – die trio van misdade wat Suid-Afrikaners die meeste vrees – skuldigbevindings van 82,9% gelewer het.

Die NVG erken in die jaarverslag dat korrupsie in die openbare en private sektor ’n plaag in Suid-Afrika geword het, terwyl geldwassery, die finansiering van terreur, samespanning en ander georganiseerde misdaad landsburgers se vertroue in die sakegemeenskap, regering en die politieke stelsels ondermyn.

Abrahams meen hierdie misdade het ’n negatiewe impak op noodsaaklike dienslewering, die veiligheid van die land en die stabiliteit van die ekonomie.

Die “uiters ernstige beweringe” van staatskaping in die vorige openbare beskermer se staatskapingsverslag – waarin Zuma en die Guptas sentraal staan – is van die sake wat volgens Abrahams tans ondersoek word.

'Soortgelyks word dit beoog dat hierdie omvattende en gekompliseerde ondersoeke vervolgings en uiteindelik skuldigbevindings en lang tronkstrawwe vir die oortreders sal beteken,' voer Abrahams aan.

Luidens die jaarverslag ondersoek die NVG ook beweringe van geldwassery en belastingontduiking in die “Panama- en Paradise-dokumente, die Steinhoff-debakel, die MultiChoice-aangeleentheid en onthullings oor prysvasstellings van die rand en samespanning deur finansiële instellings”.

Sake van wanadministrasie, tenderbedrog en korrupsie, sowel as onreëlmatige en verkwiste uitgawes in staatsdepartemente en staatsentiteite, word ook ondersoek.

“Daar is 17 sake met die moontlikheid van batebeslaglegging van R50 miljard geïdentifiseer, wat ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca) gehanteer sal word.

“Miljarde rande sal na verwagting van nou tot in die volgende drie tot vyf jaar met verskeie ondersoeke verhaal word.

“Soortgelyks word dit beoog dat hierdie omvattende en gekompliseerde ondersoeke vervolgings en uiteindelik skuldigbevindings en lang tronkstrawwe vir die oortreders sal beteken,” voer Abrahams aan.

Bogenoemde R50 miljard wat die NVG beplan om te verhaal, is gelykstaande aan die R50 miljard-stimuluspakket wat pres. Cyril Ramaphosa onlangs aangekondig het om die land se ekonomie reg te ruk.

Dit is ook meer as die R40,8 miljard wat Nhlanhla Nene, minister van finansies, in sy begrotingsrede vroeër vanjaar aangekondig het wat oor die volgende drie jaar gebruik sal word om 183 miljoen handboeke, ondersteuningsmateriaal en toegang tot tegnologiese leermateriaal vir skole aan te koop. Uit dieselfde bedrag sal nege miljoen leerlinge oor die volgende drie jaar by byna 20 000 skole landwyd ook daagliks gevoed word, terwyl dit ook gebruik sal word om 82 onveilige skole te herbou en om water- en sanitasiegeriewe aan meer as 325 skole te verskaf.

Abrahams sê in die jaarverslag dat 213 staatsamptenare in 2017-’18 aan korrupsieverwante oortredings skuldig bevind is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.