Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NVG wil ondersoekers by Zondo-kommissie werf
Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste.Foto: GCIS

Om vinniger resultate in prioriteitsmisdade te behaal, sal die ondersoekdirektoraat van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) teen einde September ondersoekers by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping werf.

Dit kan gedoen word omdat die regulasies van die kommissie in Julie gewysig is sodat ondersoekers by ander wetstoepassingsagentskappe kan werk. Adv. Hermione Cronjé, hoof van die ondersoekdirektoraat, het dit destyds as ’n hupstoot beskryf wat die afhandeling van ondersoeke sal bespoedig.

Werner Horn, DA-LP, het in ’n geskrewe parlementêre vraag aan Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, gevra watter stappe die direktoraat sedert die wysiging van die regulasies gedoen het om die ondersoek van misdade te bespoedig wat by die Zondo-kommissie aan die lig kom.

“Korrupsie kom ons duur te staan. Ons verskerp voortdurend ons stryd teen korrupsie om ekonomiese herstel te verseker, beter dienste met belastingbetalers se geld te lewer en vertroue wêreldwyd te bewerkstellig,” het Lamola in sy antwoord gesê.

Hy het bygevoeg dat die wysiging van die regulasies aansienlike stukrag aan ondersoekwerk sal gee.

Volgens Lamola word die ondersoekdirektoraat sedert sy ontstaan belemmer deur die onvermoë om sy eie ondersoekers aan te stel, deels omdat die pos van ’n spesiale ondersoeker tydens die 2008-wysigings aan die NVG-wet geskrap is.

Die wysigings stel die Zondo-kommissie in staat om inligting, rekords en dokumente regstreeks aan die ondersoekdirektoraat te verskaf.

Lamola voer aan dat toegang tot inligting en bewyse duplisering sal verhoed en die tyd aan ondersoekwerk aansienlik sal verkort.

Korrupsie kom ons duur te staan. Ons verskerp voortdurend ons stryd teen korrupsie om ekonomiese herstel te verseker, beter dienste met belastingbetalers se geld te lewer en vertroue wêreldwyd te bewerkstellig.

Sedert die wysiging het die Zondo-kommissie sy digitale forensiese vermoë reeds in twee van sy prioriteitsmisdaadondersoeke tot die direktoraat se beskikking gestel.

Hierdie samewerking sluit ook die werwing van ondersoekers van die kommissie in.

Volgens Lamola sal ondersoekers by die Zondo-kommissie teen die einde van September deur die direktoraat aangestel word wanneer die kommissie hoop om sy ondersoekwerk af te handel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.