Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nyanda wil Zuma ook hof toe sleep
Siphiwe Nyanda
Siphiwe Nyanda Foto: Felix Dlangamandla

Die oudminister en -generaal van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, Siphiwe Nyanda, wil sy eertydse kameraad, Jacob Zuma, dagvaar omdat die oudpresident aanvoer dat Nyanda ’n apartheidspioen was.

“Ja, hulle (my regspan) het die dokumente ingedien,” het Nyanda Sondag teenoor News24 bevestig.

Volgens SowetanLive wil Nyanda R800 000 aan vergoeding van Zuma eis, asook dat die oudpresident om verskoning moet vra. Dié aansoek is glo in die hooggeregshof in Johannesburg ingedien.

Derek Hanekom, voormalige kabinetsminister en ANC-lid, eis ook R500 000 van Zuma oor ’n twiet waarin Zuma aanvoer dat Hanekom ook ’n “bekende vyandelike agent is”.

Dié saak is Vrydag in die hooggeregshof in Durban aangehoor. Uitspraak is voorbehou.

Dit volg op ’n breedvoerige verduideliking deur Zuma voor die Zondo-kommissie van ondersoek dat mense hom al vir ’n paar dekades uit die weg wou ruim.

Hanekom het die hof gevra dat Zuma hom om verskoning vra oor die spioen-aantygings. Hy wil ook hê dat Zuma daarvan weerhou moet word om weer soortgelyke stellings te maak en dat hy die betrokke twiet verwyder.

Die twiet was Zuma se reaksie op die EFF-leier, Julius Malema, se bewering dat Hanekom saam met die EFF gekonkel het om ’n mosie van wantroue teen hom in die parlement in te dien.

Muzi Sikhakhane, Zuma se regsverteenwoordiger, wou Vrydag hê het dat die woorde “bekende vyandelike agent” in die konteks van die huidige politieke konflik in die land geïnterpreteer word, en nie gekoppel moet word aan die apartheidsera nie.

Volgens Sikhakhane het Zuma bedoel dat Hanekom as vyand van die ANC met ander partye saamgewerk het om van hom as president ontslae te raak.

Die voormalige kabinetsminister Ngoako Ramatlhodi is ook saam met Nyanda in Zuma se openingstelling voor die Zondo-kommissie genoem.

Meer oor:  Siphiwe Nyanda  |  Oudpres. Jacob Zuma  |  Vergoeding  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.