Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
O-Kaap-begroting fokus op onderwys, gesondheid

Oscar Mabuyane, die Oos-Kaapse LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme, het Dinsdag in sy begrotingsrede gesê die koste van infrastruktuur sal voortaan streng gereguleer word.

Die koste sal aan sekere norme en standaarde moet voldoen.

Hoewel hy nie reguit erken het iets is fout by die Myolwa Senior Primary School in Lusikisiki nie, waar daar volgens die DA R4,8 miljoen begroot is vir die bou van 23 puttoilette, het hy die situasie as “betreurenswaardig” bestempel en gesê dit word ondersoek om ’n soortgelyke situasie in die toekoms te vermy.

Die departement van onderwys het wel vroeër in reaksie op die DA se bewering gesê die begroting is nie net vir die bou van die toilette nie, maar ook vir die opknapping van klaskamers.

Mabuyane het in sy begrotingsrede gesê swak ouditstandaarde sal nie meer geduld word nie en daar sal gevolge wees vir diegene wat daarvoor verantwoordelik is.

Oscar Mabuyane, die Oos-Kaapse LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme, lewer Dinsdag sy begrotingsrede in die wetgewer.

Meer aandag sal spesifiek aan die Oos-Kaap se departemente van onderwys en van gesondheid gegee word.

Die twee departemente het ook onderskeidelik die meeste en naasmeeste van die provinsie se net meer as R82,1 miljard-begroting vir die 2019-’20-boekjaar ontvang.

Sowat R36,3 miljard is aan die onderwysdepartement toegeken, waarvan onder meer R26 miljard is om te sorg daar is genoeg onderwysers, R2,1 miljard vir hulpbronne by meer as 5 000 skole en R570,4 miljoen vir skoolvervoer vir 81 000 leerlinge.

’n Groter fokus sal ook geplaas word op die bou van koshuise by skole.

Die departement van gesondheid het ’n begroting van sowat R25,1 miljard ontvang, waarvan R3,6 miljard sal gaan aan verskeie hospitale wat gespesialiseerde gesondheidsdienste bied. R1 miljard word aan die nasionale gesondheidslaboratoriumdienste toegeken.

Mabuyane sê meer sal gedoen word om die enorme druk van mediese eise teen die departement te verlig.

In Oktober het Jane Cowley, DA-woordvoerder oor gesondheid in die provinsie, in ’n verklaring gesê die departement se aanspreeklikheid ten opsigte van mediese eise het in die 2017-’18-boekjaar met meer as R7 miljard gestyg, vanaf sowat R16 miljard in die vorige boekjaar.

Mabuyane het Dinsdag gesê vir die 2018-’19-boekjaar is R630 miljoen se eise vereffen. Hy sê die departement se regsafdeling sal versterk word om bedrieglike eise teen die departement af te weer.

Die motorvervaardigingsektor is volgens hom steeds die hoeksteen van die provinsie se ekonomie. Dit het in 2018 sowat 9 500 poste geskep. Die beleggings van altesame R27,1 miljard van Volkswagen, Mercedes-Benz, Isuzu en die Chinese vervaardiger BAIC beloof ook verdere werkgeleenthede.

Mabuyane sê ’n beoogde 108 000 werkgeleenthede sal deur die uitgebreide openbare-werke-program (EPWP) geskep word, met R157,2 miljoen wat aan die provinsiale infrastruktuur-departemente toegeken word.

Mabuyane het verwys na die Makana-munisipaliteit as een van die Oos-Kaap se droogtegeteisterde gebiede met ’n ernstige watertekort. Hy sê die departement van water en sanitasie het R237 miljoen aan die James Kleinhans-watersuiweringsaanleg toegewys, waarvan R80 miljoen in die huidige boekjaar aangewend sal word om Makhanda (Grahamstad) se waterprobleme te help oplos.

Die Setlaarsdam, wat die dorp van water voorsien, is 13% vol, maar weens slik kan water nie uit die laaste 10% gepomp word nie.

Die James Kleinhans-watersuiweringsaanleg, wat sy water van die Glen Melville-dam kry, kan tans teen net 50% van sy vermoë water pomp.

Bobby Stevenson, DA-woordvoerder oor finansies, het in reaksie op Mabuyane se toespraak gesê die Oos-Kaap het dapper veranderings nodig om die provinsie se hoë werkloosheidsituasie om te draai.

Hy sê dié begroting bring nie groot veranderings om weg te beweeg van verbruiks- na beleggingsbesteding in hospitale, skole en padinfrastruktuur nie. Hy meen dié drie departemente is van uiterse belang om die gewenste omgewing vir ekonomiese groei te skep.

Stevenson sê daar was geen verwysing na enige voornemens om die gordel stywer te trek nie, terwyl die provinsie se besteding aan niekern-uitgawes soos reis, verblyf, konsultante en spyseniering sowat R1,4 miljard beloop.

Die Oos-Kaapse begroting van R82,1 miljard is soos volg toegewys (afgerond tot naaste miljoen rand):

  • Onderwys – R36,3 miljard;
  • Gesondheid – R25,1 miljard;
  • Vervoer – R4,9 miljard;
  • Maatskaplike ontwikkeling – R3 miljard;
  • Menslike nedersettings – R2,4 miljard;
  • Openbare werke – R2,3 miljard;
  • Landelike ontwikkeling en landbouhervorming – R2,3 miljard;
  • Ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme – R1,4 miljard;
  • Samewerkende regering en tradisionele sake – R1 miljard;
  • Sport, ontspanning, kuns en kultuur – R983 miljoen;
  • Premier se kantoor – R973 miljoen;
  • Provinsiale wetgewer – R541 miljoen;
  • Provinsiale tesourier – R440 miljoen; en
  • Veiligheid – R105 miljoen.
Meer oor:  Oscar Mabuyane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.