Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
O-Kaapse premier se groot planne beïndruk nie opposisie
Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, lewer Dinsdagoggend sy provinsiale rede in die wetgewer. Foto: Facebook, premier Oscar Mabuyane

Werkskepping, veral vir die jeug, was Dinsdag een van Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, se fokuspunte in sy provinsiale rede.

Maar voordat Mabuyane sy toespraak in Bhisho kon lewer, het chaos vir ’n wyle uitgebreek toe die EFF-lede aangevat is oor hul “onvanpaste kleredrag”.

Helen Sauls-August, speaker, het die EFF-lede gevra om die wetgewer te verlaat omdat hulle ingevolge die reëls onvanpas geklee is.

Die EFF-lede, in hul kenmerkende rooi oorpakke, het geweier en is toe deur veiligheidswagte verwyder.

Hierna is Nqaba Bhanga, DA-leier in die Oos-Kaap, ook versoek om die wetgewer te verlaat nadat hy die speaker telkemale gevra het om die EFF toe te laat om te bly en die saak oor die kleredrag eerder na die etiese komitee te verwys. Hy het dit egter gedoen sonder dat Sauls-August aan hom ’n spreekbeurt gegee het.

Bhanga het nie die wetgewer verlaat nie, waarop Sauls-August gesê het sy sal die kwessie oor die kleredrag én Bhanga se optrede na die etiese komitee verwys.

Toe Mabuyane oplaas met sy toespraak begin, het hy erken een van die provinsie se grootste struikelblokke bly die hoë werkloosheidskoers, wat op 39,5% die hoogste in die land is.

In die lig hiervan het hy veral gefokus op werkskepping. Volgens hom het die Coega-nywerheidsontwikkelingsone (NOS) net buite Port Elizabeth die afgelope boekjaar 18 nuwe beleggers gelok wat voorgeneem het om beleggings van R2,6 miljard te maak.

Veertien projekte is onder konstruksie in die Oos-Londense NOS, wat R3,4 miljard se beleggings uit die private sektor insluit, het Mabuyane gesê. Hierdie projekte het 2 000 regstreekse konstruksieposte geskep, wat na verwagting teen die einde van die huidige boekjaar tot 3 000 sal toeneem.

Volgens Mabuyane beteken dit daar sal teen die einde van die boekjaar ’n bykomende 14 fabrieke in die Oos-Londense NOS wees, meestal in die voertuigsektor. “ ’n Bykomende 1 600 mense, spesifiek jeugdiges, sal permanent in die fabrieke werk teen die einde van die 2020-’21-boekjaar.”

Boonop is sewe projekte wat deur die Coega-NOS vir finansiering ingedien is, deur die begroting vir infrastruktuur goedgekeur. Dié projekte sal volgens Mabuyane sorg vir ’n finansiële inspuiting van R1,4 miljard vir die provinsiale ekonomie.

Dagga-ekonomie

Mabuyane het weer eens die hoop uitgespreek dat die Oos-Kaap by die opkomende dagga-ekonomie betrokke sal raak.

Die geleenthede wat die verwerking van dagga vir nywerheids- en medisinale doeleindes bied, kan ’n ekonomiese hernuwing teweeg bring, meen Mabuyane.

“Ons as die Oos-Kaapse regering is ten gunste van ’n inklusiewe wetgewende proses wat die inheemse produsente van dagga beskerm. Ons skakel met nasionale departemente en owerhede vir die uitreiking van hennep-permitte en dagga-lisensies aan boere en beleggers in die Oos-Kaap.”

Die premier het hom voorgeneem om in die huidige boekjaar verouderde infrastruktuur as ’n prioriteit vir instandhouding te oormerk sodat inwoners nie van belangrike dienste soos water en sanitasie ontneem word nie.

“Modderskole is steeds ’n oogseer in sommige nedersettings. Al het ons (modderskole) oorleef, moet ons kinders dit nie beleef nie,” het Mabuyane gesê.

Hy het voorgeneem om deur die versnelde skool-infrastruktuur-inisiatief (Asidi) 138 bykomende skole teen 2024 te bou en volledig te oorhandig.

Die premier het ook aangekondig ’n litigasie-eenheid sal op die been gebring word om bedrieglike mediese eise namens die provinsiale gesondheidsdepartement te betwis. Spesiale fokus sal ook geplaas word op die 26 hospitale wat hoofsaaklik by mediese eise betrek word.

Die ouditeur-generaal (OG) het in sy verslag vir die 2017-’18-boekjaar ernstige bedenkinge uitgespreek oor die departement se finansiële volhoubaarheid nadat dit vir mediese eise van meer as R24 miljard aanspreeklik gehou is. Die eise was meer as die departement se totale begroting van daardie boekjaar.

Mabuyane het ook kortliks na die voortslepende droogte verwys en gesê hulle sal steeds met die nasionale regering en munisipaliteite saamwerk om gemeenskappe en boere te help.

Reaksie op provinsiale rede

Bhanga het die premier se skramse verwysing na die droogte veroordeel en gesê die droogte is die grootste bedreiging wat die provinsie tans het.

“Dag Zero is hier en hy het geen oplossings gebied nie. Sonder water is ons niks nie. Dorpe is besig om te vou omdat hul krane droog loop.”

Werkskepping moet volgens Bhanga spruit uit ekonomiese groei eerder as uit hoofsaaklik die regering se uitgebreide program vir openbare werke (EPWP), die Yes-program vir jeugindiensneming en National Youth Service (NYSP).

Volgens Bhanga het die premier nie nuwe planne ter tafel gelê nie, maar eerder nuwe lewe in ou planne probeer blaas. Hy het spesifiek na die biobrandstofprojek in Cradock verwys, wat volgens Bhanga reeds voorheen bekend gestel is, maar intussen stilweg verdwyn het.

“Met miljoene wat verder hiervoor geoormerk word, is daar geen waarborg dat enigiets sal verander nie.

“Ons kan nie aanhou om dieselfde goed te doen en ’n ander uitkoms te verwag nie.”

Die EFF het by navraag gesê hulle sal nie onmiddellik kommentaar kan lewer op die provinsiale rede nie, aangesien hulle uit die wetgewer geskop is. Sy lede in die wetgewer het die grootste deel van die dag met hul prokureurs gekonsulteer.

Mlamli Makhetha, die EFF se provinsiale sekretaris, het glo tydens die onderonsie met veiligheidswagte ’n sny op sy kop opgedoen en regstappe word teen die speaker oorweeg.

Theo Coetzee, VF Plus-LPW, sê Mabuyane se toespraak was vaag. “Ek het veel meer verwag, veral oor dienslewering in munisipaliteite en die onregmatige uitgawes wat steeds voortduur.”

Hy sou wou hoor die premier verbind hom tot optrede wat departemente en munisipaliteite aanspreeklik sal hou vir swak dienslewering en wanbesteding.

Hy meen ook Mabuyane het geen definitiewe plan vir werkskepping nie en hy maak staat op motorfabrieke in Oos-Londen en Port Elizabeth.

“Daar was ook te veel klem op werkloosheid onder die jeug. Met alle respek, ’n pas gematrikuleerde mens kan nog ’n ruk sonder ’n werk gaan, maar ’n volwassene, met ’n gesin, moet veel dringender ’n werk kry.”

Meer oor:  Oscar Mabuyane  |  Provinsiale Rede  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.