Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB: Aansoeke teen verslae as ‘skietgoed’ teen haar gebruik

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, sê die klomp hersieningsaansoeke teen bevindinge in van haar verslae word as “skietgoed gebruik” deur die benadeelde partye.

Mkhwebane het Dinsdag op Unisa se lente-regskongres in Johannesburg gepraat.

Diegene teen wie sy bevindinge gemaak het, neem haar verslae op regshersiening met die doel om twyfel oor haar bevoegdheid te saai.

Busisiwe Mkhwebane
Adv. Busisiwe Mkhwebane. Foto: Felix Dlangamandla

“Nog erger, daar kleef stigmas aan die hersieningsaansoeke en dit is skietgoed. Gewoonlik is hersiening (soos ’n appèl) ’n opsie vir die benadeelde om ’n ander forum te nader vir ’n ander uitkoms en behoort nie gesien te word as ’n aanklag teen die persoon wat die besluit geneem het wat betwis word nie.”

Pres. Cyril Ramaphosa het die OB se verslag oor die finansies van sy CR17-ANC-veldtog op hersiening geneem. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het ook haar bevindinge in ’n afsonderlike verslag, dat hy betrokke was by die daarstelling van die sogenaamde “rogue-unit” in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, op hersiening geneem.

Mkhwebane het die media daarvan beskuldig dat hulle haar in die teenoorgestelde gevegshoek as Ramaphosa en Gordhan plaas, waar sy inderwaarheid net haar werk doen deur klagte teen die twee te ondersoek wat by haar kantoor ingedien is.

“Wanneer die media verslag gedoen het, was dit iets soos ‘Mkhwebane teen Gordhan’, of ‘Mkhwebane teen die president’. Hulle fokus nie op die klaer nie. Dit moet eerder wees ‘Maimane teen die president’, want dit is Maimane wat gekla het.”

Mmusi Maimane, DA-leier, het ’n klag by die OB se kantoor ingedien dat Ramaphosa nie die waarheid sou gepraat het oor sy presidensiële veldtog in 2017 nie wat betref geld wat van Bosasa ontvang is.

Die EFF het ’n klag ingedien oor die “rogue-unit” by die SAID.

Die parlement gaan na verwagting ’n versoek van die DA oorweeg dat prosesse aan die gang gesit moet word om van Mkhwebane ontslae te raak.

Sy is egter oortuig daarvan dat sy haar termyn ongedeerd sal uitdien.

“Ek is nie daaroor bekommerd nie. Ek meen ek sal my termyn uitdien. Ek sal nie toelaat dat my aandag afgetrek word nie. Ek is gefokus daarop om die instelling se funksies op grondvlak uit te voer.”

Sy het die media vroeër daarvan beskuldig dat hulle haar voorhou as iemand wat strikke stel vir politici.

“Die media wil jou laat glo dat ons al ons tyd bestee om strikke vir groot politieke rolspelers te stel en alles moontlik doen om hulle aan die kaak te stel.”

Sy het gesê die waarheid is egter dat die meeste sake op hul tafel oor gewone mense gaan.

“Daar word nie oor dié sake in die nuus berig nie, want die betrokkenes is nie trekpleisters nie en kan dus nie koerante verkoop of televisie en radio se kykergetalle of luisteraars verhoog nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.