Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB bang dié beslissings skep presedent, sê Segalwe

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), vrees dat uitsprake soos dié Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria – dat sy persoonlik vir regskoste verantwoordelik gehou word – ’n negatiewe invloed op toekomstige openbare beskermers kan hê.

Oupa Segalwe. Foto: Argief

So het Oupa Segalwe, Mkhwebane se woordvoerder, gesê nadat regter Ronel Tolmay beslis het die OB moet persoonlik 7,5% van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) en die DA se regskoste betaal in die saak oor haar ondersoek na die Estina-suiwelprojek in Vrede in die Vrystaat.

Die amptelike bedrag is nie bekend nie, maar dit kan honderdduisende rande beloop.

“Die OB is baie teleurgesteld met die hof se besluit en gaan teen die besluit appelleer,” sê Segalwe.

Die konstitusionele hof het ook onlangs beslis Mkhwebane moet in haar persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou word vir die regskoste van die Reserwebank wat hy aangegaan het om die bevindinge in haar Absa-Bankorp-verslag tersyde te stel. Dit sal Mkhwebane sowat R900 000 uit die sak jaag.

Segalwe sê Mkhwebane is bekommerd dat ’n presedent nou geskep word, wat ’n gevoel van vrees sal laat ontstaan by diegene wat in die toekoms die rol van die OB moet vervul. Die OB moet in staat wees om sonder vrees moeilike besluite te neem en regstellende aksies voor te stel. “Dit is vir die OB ’n beginselsaak.”

Hoewel daar in sekere geledere baie druk op die parlement is om van Mkhwebane ontslae te raak, verstryk haar termyn eers in 2023.

Segalwe sê die OB hou vol sy het met die ondersoek na Estina in goeder trou opgetree. Sy staan by die bevindings wat sy in haar verslag gemaak het.

Segalwe het daarop gewys dat die Estina-ondersoek afgehandel is ’n jaar voordat Mkhwebane in 2016 die OB geword het. Adv. Thuli Madonsela was toe nog die OB.

Dit is onverstaanbaar hoe die hof kan sê die bevindings in die verslag is beïnvloed deur ander gebeure as net bewyse.

’n Voorlopige verslag is toe uitgereik, maar geen bevindings is oor enige politici gemaak nie. Daar was wel ’n konsepvoorstel dat die destydse Vrystaatse premier Ace Magashule moet optree teen amptenare wat met die projek verkeerd opgetree het. Magashule is nou die sekretaris-generaal van die ANC.

“Dit is onverstaanbaar hoe die hof kan sê die bevindings in die verslag is beïnvloed deur ander gebeure as net bewyse,” sê Segalwe.

Hy sê die OB oordink sake deeglik om seker te maak sy tree binne die wet op voordat sy enige besluite neem.

Segalwe sê Mkhwebane is besig om ’n afsonderlike ondersoek te doen na die rol wat politici in die Estina-sage gespeel het.

“Sy het verskeie politici (onder wie Magashule en oudminister Mosebenzi Zwane, wat LUR vir landbou in Vrystaat was) reeds ondervra en sal ook ander ondervra.”

* Volgens onlangse getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, sou daar deur middel van die Estina-suiwelprojek werk aan 600 mense verskaf word, maar uiteindelik is dié totaal nou ’n skrale 41.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.