Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB dreig glo parlement met regstappe oor haar pos
Adv. Busisiwe MkhwebaneFoto: DAILY SUN

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), het glo die parlement gewaarsku dat regstappe kan volg as hy nie ligloop nie.

Die Sunday Times het berig dat Mkhwebane geskryf het aan Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), en gewaarsku het dat sy haar tot die hof sal wend as die parlement besluit om ’n proses voort te sit om haar uit haar pos te verwyder.

Modise het in Junie in ’n brief aan John Steenhuisen, DA-hoofsweep, bevestig dat sy versoek vir die ondersoek na Mkhwebane se geskiktheid vir haar pos na die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste verwys sal word.

Die party het ook nóg ’n versoek tot die speaker gerig dat die OB ingevolge art.194 van die Grondwet verwyder moet word. Dit is die DA se derde poging om Mkhwebane uit haar pos te verwyder nadat vroeëre pogings deur die komitee gekelder is. Die mosie van die DA het gekom in die lig van die verskeie bevindings van die OB wat in die hof op hersiening geneem is.

Dit is die DA se derde poging om Mkhwebane uit haar pos te verwyder nadat vroeëre pogings deur die komitee gekelder is.

Mkhwebane het Vrydag ’n verslag bekend gemaak waarin sy bevind het dat pres. Cyril Ramaphosa die parlement “opsetlik mislei” en die etiese kode vir die uitvoerende gesag verbreek het.

Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, het bevestig dat Modise ’n brief van Mkhwebane ontvang het.

Oupa Segalwe, Mkhwebane se woordvoerder, het ook Sondag bevestig dat die OB aan Modise geskryf het. Sy het egter nog geen terugvoer van Modise ontvang nie. Segalwe wou nie ’n afskrif van die brief aan die media beskikbaar stel nie.

Luidens die Sunday Times beskuldig Mkhwebane Modise in haar brief daarvan dat sy die Grondwet en die NV-reëls verbreek het deur Steenhuisen se mosie na die portefeuljekomitee te verwys. Na wat berig word, voer sy aan in haar brief dat hoewel die Grondwet gronde uiteensit vir die verwydering van die OB, het die “parlement geen spesifieke reëls” aanvaar oor die prosedure wat gevolg moet word om die OB uit sy of haar pos te verwyder nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.