Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB gekap ná hofuitspraak oor Vrede-verslag

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, is Maandag hewig gekritiseer nadat die hooggeregshof in Pretoria bevind het dat sy haar plig versuim het om die Guptas se Vrystaatse suiwelprojek behoorlik te ondersoek.

Regter Ronel Tolmay het onder meer bevind dat haar verslag oor die Vrede-suiwelprojek ongrondwetlik en ongeldig is.

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer. Foto: Dan Xangaza

Lawson Naidoo van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) het gesê die parlement moet “dringend” ondersoek instel of Mkhwebane geskik vir haar pos is.

“Alle moontlike meganismes moet gebruik word om haar uit haar pos te verwyder. Ons het nie vertroue in haar vermoë om die kwessie onafhanklik te ondersoek nie.”

Mkhwebane het nie enige bevindings in haar verslag gemaak oor die rol van die vorige Vrystaatse premier, Ace Magashule, en die destydse LUR vir landbou, Mosebenzi Zwane, in die suiwelprojek nie omdat dit nie deel van haar ondersoek uitgemaak het nie.

Dít ondanks die feit dat #GuptaLeaks aan die lig gebring het dat minstens R30 miljoen aan die Guptas deur die plaas betaal is en uiteindelik in 2013 gebruik is om vir ’n weelderige familietroue in Sun City te betaal.

Hieroor het Tolmay gesê Mkhwebane kon nie inligting ignoreer wat in die openbare domein was wat die Guptas, hul medewerkers en openbare amptenare daarby impliseer nie.

“Die gebrek om ag te slaan op die klag van 10 Mei 2016, of om ag te slaan op die inligting wat algemeen bekend was van bewyse wat hoë-profiel- openbare amptenare en die Gupta-familie by korrupsie betrek, was irrasioneel omdat feite geïgnoreer is wat regstreeks met ernstige aantygings van korrupsie en ampsoortredings in die projek verband hou . . .” het hy gesê.

Dit is die tweede keer dat ’n verslag van Mkhwebane verwerp word.

Haar ondersoek na die apartheidsreddingsboei vir Bankorp, wat later deur Absa gekoop is, is ook nie aanvaar nie.

Die DA het die parlement in 2017 en 2018 gevra dat die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste ondersoek doen na Mkhwebane se geskiktheid om haar pos te beklee. Albei pogings van die DA is afgeskiet.

Mmusi Maimane, DA-leier, het Maandag gesê dat Mkhwebane vasbeslote is om openbare geld op “vals” regsaksie te verkwis.

Dr. Somadoda Fikeni, politieke ontleder, het gesê Mkhwebane se geloofwaardigheid begin nou skade ly.

“Alles wat sy doen, sal nou in twyfel getrek word,” het hy gesê.

Dr. Mathole Motshekga, 'n voormalige voorsitter van die portefeuljekomitee oor justisie en lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, het gesê dit "is vanselfsprekend" dat die volgende parlement moet oorweeg om ondersoek in te stel na Mkhwebane se geskiktheid om haar pos te beklee ná die die hofuitspraak Maandag.

Die ANC het nog nie amptelik hierop gereageer nie. Die regerende party se kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.