Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB-Gordhan-twis ’n 'terugveg-poging teen Cyril'
Adv. Busisiwe Mkhwebane Foto: Argief

Die voortslepende openbare twis tussen adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, is deel van ’n “desperate en veragtelike” terugvegpoging deur dié wat die meeste kan verloor deur pres. Cyril Ramaphosa se hervormings, asook staatskapers, sê die grondwetwaghond Casac.

Dié twis plaas Suid-Afrika se grondwetlike integriteit volgens Casac weer op die spel en die organisasie meen dat dit daarom noodsaaklik is dat Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, dadelik die parlementêre proses moet begin om Mkhwebane se geskiktheid vir haar pos te ondersoek om verdere skade te voorkom.

Lawson Naidoo, Casac se uitvoerende sekretaris, het Sondag in ’n sterk bewoorde verklaring gesê hoewel Casac erken dat Gordhan en Ramaphosa nie bo die gereg verhewe is nie, “is Mkhwebane ook nie”.

“Ons glo sy misbruik haar magte met haar onverbiddelike jag op Gordhan”.

Volgens Casac het verskeie howe al bevind dat Mkhwebane in ’n aantal onlangse verslae “irrasioneel en daarom ongrondwetlik” opgetree het, soos in die Absa/ Ciex-, Reserwebank- en Vrede-suiwelprojek-aangeleentheid.

Verder wys haar vasberadenheid met die sogenaamde rogue unit-kwessie – wat vroeër al beslissend hanteer is – ook dat sy in “kwade trou” optree, sê Naidoo.

Casac glo daar is ’n fundamentele, onderliggende kwessie wat tot die hart van Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie sny en veel diep strek as die openbare twis tussen Mkhwebane en Gordhan.

“Dit verteenwoordig ’n stryd vir beheer oor die demokratiese staat en gepaardgaande hulpbronne wat stelselmatig in oudpres. Jacob Zuma se termyn na onwettige, private belange gekanaliseer is soos daagliks in die Zondo-kommissie onthul word.”

Volgens Naidoo is dit deel van ’n desperate en veragtelike terugvegpoging wat die land se grondwetlike integriteit weereens op die spel plaas en nie onderskat moet word nie.

Pravin Gordhan Foto: Argief

Volgens hom word die OB-kantoor “misbruik” as deel van ’n politieke veldtog waarvan die werklike teiken Ramaphosa se anti-korrupsie-hervormings is.

Casac meen net die parlement kan Mkhwebane se geskiktheid vir haar pos ondersoek en het Modise versoek om so ’n proses in belang van alle Suid-Afrikaners en die Grondwet onmiddellik te begin.

Intussen het die Sunday Times Sondag berig dat Mkhwebane vir Keletso Manyike, “ ’n werklose, dagga-rokende Rastafariër”, as ’n sleutelbron in haar verdoemende rogue unit-verslag teen Gordhan gebruik het.

Gordhan het reeds ’n dringende hooggeregshofaansoek ingedien om dié verslag te hersien en tersyde te stel.

Mkhwebane het gesê sy sal die hersieningsaansoek teenstaan.

Die EFF, wat Mkhwebane openlik steun in haar openbare twis met Gordhan, het Vrydag gesê sy regspan gaan saam met dié van die OB die aansoek teenstaan.

Die OB-kantoor het Sondag in reaksie op die Sunday Times-berig op Twitter geskryf: “Ons sal nie geloofwaardigheid verleen deur kommentaar te lewer op desperate pogings om ons verslag te diskrediteer nie. Ons het nie ‘ster- of sleutelgetuies’ nie, maar veelvoudige getuienisbronne wat dokumentasie insluit, maar nie beperk daartoe is nie, sowel as mondelingse getuienis.

“En ons het twee keer met mnr. Manyike vergader. Verder spreek feite oor wette wat verbreek is vir hulself, terwyl dit onweerlegbaar en onwrikbaar is. Laastens word ons verslae net in howe hersien, nie in koerante nie.”

Die EFF het ook die Sunday Times-berig in ’n verklaring as “bevooroordeeld, vals en propagandisties” beskryf en dit afgemaak as ’n poging om die OB-verslag onwettig te maak.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Ob  |  Busisiwe Mkhwebane  |  Pravin Gordhan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.