Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB hou partytjie saam met dié wat sy moet ondersoek

Te midde van ’n dringende hofaansoek om te keer dat sy as openbare beskermer (OB) “onttroon” word, het adv. Busisiwe Mkhwebane Vrydag haar 50ste verjaardag gevier, na wat berig word saam met sommige gaste wat die wenkbroue laat lig het.

Bongani Bongo en Mosebenzi Zwane, ANC-LP’s en voormalige ministers van onderskeidelik staatsveiligheid en minerale bronne, was by dié uithanggeleentheid, berig IOL.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer. Foto: Argief

Adv. Dali Mpofu, voormalige voorsitter van die EFF, adv. Nomgcobo Jiba, voormalige direkteur van openbare vervolgings, Mzwanele Manyi, beleidshoof van die ATM, en Mzwandile Masina, burgemeester van Ekurhuleni, was na berig word ook daar.

Bongo, huidige voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake, is in November deur die Valke in hegtenis geneem en op borgtog van R5 000 vrygelaat. Die klagte het gespruit uit sy beweerde omkopery van adv. Ntuthuzelo Vanara, getuienisleier van die parlementêre ondersoek na beweerde ongerymdhede by Eskom.

Zwane is die voormalige LUR vir landbou in die Vrystaat ten tyde van die omstrede Estina-suiwelplaasdebakel. amaBhungane en News24 het in Desember berig dat Mkhwebane glo opdrag gegee het dat inligting oor Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, en Zwane uit haar verslag oor die Estina-debakel gelaat moet word.

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, het Sondag in ’n verklaring opgemerk dat Mkhwebane partytjie hou saam met mense wat sy behoort te ondersoek.

Mkhwebane het verlede jaar aangekondig dat haar kantoor met ’n nuwe ondersoek na Estina begin het waarin politici aanspreeklik gehou sal word. Dié ondersoek waarvan die besonderhede nog bekend gemaak moet word, moet noodwendig die intriges van Zwane insluit, glo Mazzone.

“Tog baljaar hy skaamteloos by die verjaardagvieringe van die persoon wat hom ondersoek.

“Ondanks die ongelooflike onbehoorlikheid daarvan en ondanks ’n kakofonie van menings tot die teendeel, hou die OB vol dat sy die Grondwet gelees het, dat sy haar mandaat verstaan en gepas is vir haar pos. As sy nie die flagrante teenstrydigheid kan erken asook die onderliggende erosie van onafhanklikheid wat daarmee saamgaan nie, stem ons nie saam nie,” lui Mazzone se verklaring.

Thandi Modise Foto: City Press

Intussen het Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), politieke partye Vrydag ingelig dat die sperdatum om kandidate te benoem vir die onafhanklike paneel van kundiges wat ’n evaluering sal doen ten opsigte van die verwydering van Mkhwebane uit haar pos, tot eerskomende Woensdag verleng is.

Dit het gevolg op ’n versoek dat politieke partye meer tyd hiervoor gegun word.

Modise sal die paneel aanstel sodra sy al die name ontvang en dit oorweeg het.

Ingevolge die parlementêre reëls vir die verwydering van die OB moet die paneel uit drie gepaste en behoorlike Suid-Afrikaners bestaan wat gesamentlik oor die noodsaaklike regs- en ander bevoegdhede beskik om so ’n ontleding te doen.

’n Regter kan ook daarop aangestel word, maar die speaker moet dit in oorweging met die hoofregter doen.

Die paneel moet binne 30 dae ná sy aanstelling ’n voorlopige ontleding finaliseer en ’n aanbeveling aan die speaker maak.

Die speaker moet dié aanbeveling vir debat in die NV skeduleer. As die NV besluit dat die ondersoek moet voortgaan, moet die kwessie ingevolge art. 194 van die Grondwet na ’n spesiale parlementêre komitee vir ’n formele ondersoek verwys word.

Mkhwebane het haar tot die hooggeregshof in Kaapstad gewend vir ’n dringende interdik om die parlementêre proses te keer om haar deur ’n “staat van beskuldiging te verwyder en te onttroon”. Sy wil hê dié interdik moet geld tot ná haar hofaansoek waarin sy die parlementêre reëls wat in dié proses gebruik word onwettig en ongrondwetlik wil laat verklaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.