Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB kan steeds nie sê wanneer Estina-ondersoek klaar sal wees

Die ondersoek na die veelbesproke Estina-suiwelprojek in Vrede in die Vrystaat is amper afgehandel, maar sy kan nog nie sê presies wanneer die finale verslag gereed sal wees nie, sê adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB).

Mkhwebane het in Januarie ook gesê dié projek – waarby Ace Magashule, die vorige premier van die Vrystaat, en die Guptas betrek word – is byna afgehandel.

Toe die beleërde OB – wat op talle vlakke onder erge druk is om uit haar pos verwyder te word – Maandagmiddag gedurende ’n aanlyn mediakonferensie hieroor uitgevra is, het sy gesê onderhoude is gevoer met byna al die mense wat deur die projek bevoordeel sou word.

Twee mense wat diensooreenkomste met die Vrystaatse departement van landbou onderteken het, kon egter nie opgespoor word nie.

Hulle is intussen opgespoor, het Mkhwebane gesê.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB).Foto: Argief

Haar kantoor sukkel ook om moontlik bykomende inligting van wetstoepassingsagentskappe soos die nasionale vervolgingsgesag te kry.

“Die verslag is steeds nie gereed nie, hoewel ons in die laaste fase is.

“Ek is ongelukkig nie in ’n posisie om my te verbind tot ’n spesifieke datum wanneer dit voltooi sal wees nie, omdat die ondersoekers ook met verskeie ander ondersoeke besig is,” het Mkhwebane bygevoeg.

Sy sê sy kan nie nog druk op hulle plaas nie omdat hul werkdruk reeds baie hoog is en ander ondersoeke ook belangrik is.

Mkhwebane het in 2018 ’n volledige verslag uitgereik waarin aankoop-ongerymdhede, erge nalatigheid en wanadministrasie ten opsigte van die projek gevind is.

Haar aanbevelings was toe dat Magashule “dissiplinêre stappe moet doen teen alle geïmpliseerde amptenare wat te doene gehad het met die projek”.

Geen vingers is na enige politici gewys nie.

In Mei 2019 het regter Ronel Tolmay die verslag ter syde gestel toe sy bevind het dat dit ongrondwetlik en ongeldig is.

Die regter het bevind die OB het haar plig versuim.

Altesaam R114 miljoen is sonder ’n tender aan Estina beloof. Uiteindelik is sowat R210 miljoen wat vir opkomende swart boere bedoel was, oorbetaal.

Die boere het nie die geld gekry nie.

Die plaas waarop die projek ontwikkel sou word, is gratis deur die Vrystaatse departement van landbou gegee met ’n huurtermyn van 99 jaar.

* Die OB het die uitslae van verskeie ander sake wat haar kantoor ondersoek het, Maandagmiddag bekend gemaak.

Dit sluit onder meer in ’n ondersoek na ’n klag wat Godrich Gardee, voormalige sekretaris-generaal van die EFF, oor onreëlmatighede in die departement van water en sanitasie ingedien het.

Dit het gegaan oor die aankoop van lisensies van die programmatuur-maatskappy SAP vir die departement en waterrade.

Daar is beweer ene Luvo Makasi, ’n werknemer van die departement, het ’n rol gespeel in die beklinking van die kontrakte. Hy het glo voorgegee hy verteenwoordig die belange van Nomvula Mokonyane deur regstreekse instruksies te gee aan senior amptenare in die departement.

Die OB sê sy kon geen bewyse vir dié bewering vind nie.

Haar ondersoek het wel die bewerings dat die departement onreëlmatig die SAP-lisensies vir homself en die waterrade bekom het, bevestig.

Sy het bevind die optrede van twee amptenare het neergekom op wanadministrasie en onbehoorlike gedrag. Die uitgawe was onreëlmatig, vrugteloos en ’n verkwisting.

Mkhwebane het voorgestel die departement moet dissiplinêre stappe doen teen die amptenare wat sy uitgewys het. Die departement moet ook sy samewerking gee aan die spesiale ondersoekeenheid.

Meer oor:  Ob  |  Busisiwe Mkhwebane  |  Estina  |  Verslag  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.