Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB-kantoor stoom voort ondanks wolk oor Mkhwebane

Ondanks die parlementêre ondersoek na adv. Busisiwe Mkhwebane se geskiktheid as openbare beskermer (OB) is haar kantoor steeds daartoe verbind en toegewyd om Suid-Afrikaners te dien.

Adv. Kholeka Gcaleka, waarnemende OB, het Woensdag dié versekering gegee nadat sy verskeie ondersoekverslae uitgereik het.

Gcaleka sal van Donderdag af weer in haar pos as adjunk-OB wees omdat Mkhwebane ná ’n sabbatsverlof van etlike maande na die kantoor sal terugkeer.

Adv. Busisiwe Mkhwebane Foto: Conrad Bornman

Joernaliste wou Woensdag ook by Gcaleka weet watter invloed die talle verdoemende hofuitsprake teen Mkhwebane, sowel as die parlementêre proses, op die OB-kantoor se geloofwaardigheid, integriteit en reputasie het.

Volgens Gcaleka moes die kantoor sedert die konstitusionele hof se uitspraak wat alle OB-bevindings bindend gemaak het, al hoe meer ook op regsaspekte in sy bevindings fokus.

Sy meen dat die hofuitsprake egter nie geïgnoreer kan word nie en daarom het die OB-kantoor sy standaard-bedryfstelsels en reëls versterk, terwyl dit ook oorweeg om die OB-wet te wysig.

Volgens haar word 95% van die OB-verslae, wat die lewens van gewone Suid-Afrikaners raak, nie in die howe betwis nie. “Daarom kan die integriteit van ’n instelling nie aan ’n werkslading van 5% getoets word nie.”

Intussen sal die parlementêre proses teen Mkhwebane voortgaan sodra LP’s van die huidige parlementêre reses terugkeer.

Dit kom nadat ’n oorweldigende meerderheid LP’s onlangs ’n verslag van ’n onafhanklike paneel aanvaar het waarin bevind is dat daar prima facie-bewyse is dat Mkhwebane haar in haar ampspligte aan wangedrag en “volgehoue onbevoegdheid” skuldig gemaak het.

’n Spesiale of ad hoc-komitee moet nou ná ’n DA-mosie ’n amptelike ondersoek na Mkhwebane doen.

Een van die verslae wat Gcaleka Woensdag uitgereik het, was oor die omstrede motorfiets-ambulansskandaal in die Oos-Kaap. Dié provinsie het verlede jaar R10 miljoen aan 100 “motorfiets-ambulanse” bestee.

Die OB-kantoor het bevind dat die aankoopproses vir die motorfietse onreëlmatig was en dat tugstappe binne 90 dae teen die verantwoordelikes gedoen moet word.

Ondersoek is ook gedoen om te bepaal of Altecia Kortjie (26) weggewys is by die Bellville-landdroshof toe sy ’n beskermingsbevel wou bekom – slegs dae voordat sy en haar dogter, Raynecia (7), na bewering deur die kind se pa vermoor is.

Die twee se lyke is verlede jaar met veelvuldige meswonde in ’n huis in Belhar gevind.

Die OB het bevind daar is geen bewyse dat die hof Kortjie weggewys het nie.

Die OB het ook bevind dat Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse DA-leier en LUR vir vervoer en openbare werke, moedswillig ’n vals en misleidende stelling in die provinsiale wetgewer teenoor Brett Herron, Good-LPW, gemaak en sodoende die etiese kode oortree het.

Herron het Woensdag in ’n verklaring gesê Madikizela het in Junie 2019 “vir die wetgewer gelieg toe hy valslik beweer het dat alle middestad-behuisingsprojekte wat ek in 2017 in Kaapstad bekend gestel het, deur die howe gekanselleer is omdat ek onwettig opgetree het”.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, moet binne 14 dae die OB se verslag met moontlike stappe teen Madikizela aan die wetgewer voorlê.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.