Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘OB laat die armes in die steek’
Regter Ronel Tolmay (agter in die middel) Donderdagoggend besig met haar uitspraak. Foto: Sarel van der Walt

Sy het die armes en die kwesbaarste mense in die gemeenskap in die steek gelaat.

Adv. Busisiwe Mkhwebane. Foto: Gallo

Daarom is die optrede van adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), in haar ondersoek na die Estina-suiwelprojek by Vrede in die Vrystaat “nóg slegter en betreurenswaardiger” as haar ondersoek na die Reserwebank.

Dié harde woorde het Donderdag­oggend in die hooggeregshof in Pretoria gekom van regter Ronel Tolmay toe sy gelas het dat Mkhwebane persoonlik 7,5% moet opdok van die regskoste van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) en die DA in die saak oor haar ondersoek na die Estina-suiwelprojek.

Haar kantoor moet 85% betaal. Dit is uit die uitspraak onduidelik wie die ander 7,5% moet betaal.

Die DA weet nog nie wat die regskoste uiteindelik beloop nie.

Tolmay het gesê die OB het in dié ondersoek nie haar grondwetlike plig nagekom nie.

Beeld het onlangs berig oor getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping dat die suiwelprojek werk aan 600 mense sou verskaf.

Ace Magashule
Mosebenzi Zwane

Net 41 het werk gekry.

Dié kostebevel volg kort op die hakke van die konstitusionele hof se uitspraak dat Mkhwebane persoonlik aanspreeklik gehou word vir die regskoste wat die Reserwebank aangegaan het om die bevindings in haar Absa/Bankorp-verslag te laat omkeer.

In dié geval moet sy persoonlik sowat R900 000 opdok (15% van die regskoste).

Tolmay het in Mei beslis dié verslag is ongrondwetlik en ongeldig en het dit tersyde gestel. Tolmay het gesê in die Reserwebank-saak het die OB se foute ’n uitwerking gehad op instellings wat die geld het om hulself te verdedig, maar in die Estina-sage het sy deur haar pligsversuim ’n uitwerking gehad op die regte van die armes en die kwesbares.

“Dit is vir dié mense dat haar kantoor aanvanklik gestig is.

“Húlle (die armes) is ontneem van ’n geleentheid om ’n beter lewe vir hulself te skep.”

Mkhwebane het hulle nie geraadpleeg nie en nie die talle onreëlmatighede wat na bewering gepleeg is, behoorlik en objektief ondersoek nie. Dit kom neer op growwe nalatigheid.

“As sy misluk, soos in dié geval, moet sy volle verantwoordelikheid aanvaar.”

'Sy is baie teleurgesteld'

Mkhwebane vrees dat hofbeslissings dat sy persoonlik aanspreeklik gehou word vir regskoste in die toekoms ’n negatiewe invloed op die pos van die OB kan hê, sê Oupa Segalwe, OB-woordvoerder.

“Die OB is baie teleurgesteld met die hof se besluit en gaan daarteen appelleer.”

Segalwe sê Mkhwebane is bang presedente word nou geskep wat ’n gevoel van vrees laat ontstaan by ander mense wat in die toekoms die rol van OB sal vervul.

Die OB moet in staat wees om sonder vrees moeilike besluite te neem en regstellende optrede voor te stel. “Dit is 'n beginselsaak vir die OB.”

Segalwe sê die OB hou vol sy het met dié ondersoek in goeder trou opgetree en staan by haar bevindings in die verslag.

Volgens Segalwe is die Estina-ondersoek afgehandel ’n jaar voordat Mkhwebane in 2016 die OB geword het. ’n Voorlopige verslag is toe uitgereik, maar geen bevindings is oor enige politici gemaak nie.

Daar was wel ’n konsepvoorstel dat die Vrystaatse premier (Ace Magashule, nou sekretaris-generaal van die ANC) moet optree teen amptenare wat met die projek verkeerd opgetree het.

Segalwe sê die OB oordink sake deeglik om seker te maak sy tree binne die wet op voordat sy enige besluite neem.

Hy sê sy is besig met ’n afsonderlike ondersoek na die rol van politici in die Estina-sage.

“Sy het verskeie politici (onder wie Magashule en oudminister Mosebenzi Zwane, wat LUR vir landbou in die Vrystaat was) reeds ondervra en sal ook ander ondervra.”

Meer oor:  Ob  |  Busisiwe Mkhwebane  |  Vrede  |  Pretoria  |  Ob T. Ramaphosa  |  Estina-Suiwelprojek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.