Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB laat ‘fopnuus’ met verslag oor SAID-eenheid herleef – hof

Terwyl dinge aan die gang is om adv. Busisiswe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), uit haar amp te verwyder, is nóg een van haar verslae Maandag in ’n skerp uitspraak deur die hooggeregshof in Pretoria ter syde gestel.

Regters Selby Baqwa, Leonie Windell en Annali Basson het bevind dat Mkhwebane se sogenaamde rogue unit-verslag irrasioneel en bevooroordeeld is, terwyl sy ook bewyse met die opstelling daarvan geïgnoreer het.

Die verslag is verlede jaar deur Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, op hersiening laat neem nadat negatiewe bevindings daarin teenoor hom, Ivan Pillay, voormalige adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, en Oupa Magashula, voormalige kommissaris van die SAID, gemaak is.

Pravin Gordhan

Die bevindings hou hoofsaaklik verband met die beweerde stigting van ’n “onwettige en geheime” intelligensie-eenheid binne die SAID toe Gordhan in 2007 die kommissaris van die belastinggaarder was.

Gordhan, sowel as Pillay en die voormalige SAID-amptenaar Johan van Loggerenberg, het egter in beëdigde verklarings aangevoer dat die eenheid binne die raamwerk van die wet bedryf is om inligting oor georganiseerde misdaad in te samel.

In hul uitspraak Maandag het die regters boonop gesê dat Mkhwebane in haar persoonlike hoedanigheid vir ’n deel van die aansoekers se regskoste moet opdok.

“Die verslag misluk op elke punt. Ons (glo) dat die verslag die eindproduk is van ’n geheel irrasionele proses, beroof van enige gegronde regs- of feitlike basis. Dit kan nie staan nie en moet tersyde gestel word,” lui die uitspraak.

Volgens die regters het Mkhwebane verklarings van die aansoekers en ander bewyse geïgnoreer en eerder besluit om staat te maak op twee gediskrediteerde verslae oor die SAID-eenheid, sowel as ’n derde obskure verslag wat sy self nie eens onder oë gehad het nie.

Volgens die regters het Mkhwebane toegelaat dat haar “belangrike kantoor gebruik word om te probeer om dooie fopnuus-propaganda-fiksie te laat herleef”.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB). Foto: Argief

“In verband met die manier waarop die openbare beskermer bloot uit die staanspoor geheel en al en irrasioneel harde feite en duidelike bewyse geïgnoreer het, is dit duidelik dat sy haar ondersoek met ’n vooropgestelde mening benader het, vasbeslote om negatiewe bevindings jeens mnr. Gordhan en mnr. Pillay te maak, en daardeur die valse narratief van ’n rogue unit te bevorder,” lui die uitspraak.

Volgens die regters het Mkhwebane om ’n onverklaarbare rede ook nie ag geslaan op die bevindinge van die Nugent-kommissie wat die stand van sake by die SAID in 2018 ondersoek het, en wat geen bewyse kon vind dat die intelligensie-eenheid onwettig was nie.

In reaksie op die uitspraak het Mkhwebane in ’n twiet gesê dat sy wel bewyse het om die bevindings in haar verslag te staaf, hoewel sy nie verder daarop uitgebrei het nie.

Verder het Mkhwebane vir adv. Dali Mpofu SC aangehaal wat glo aangevoer het wie ook al teen die OB litigeer, hoef nie ’n vaste saak te hê nie en hoef net op te daag om te wen.

Oupa Segalwe, haar woordvoerder, het by navraag bloot gesê dat die uitspraak bestudeer word.

Dr. Bheki Ndevu, politieke ontleder aan die Universiteit van Stellenbosch (US), sê die jongste hofuitspraak is in ooreenstemming met vorige ongunstige uitsprake teen Mkhwebane.

“Dit bevestig wat baie mense sê; dat sy nie die wet volg nie en dat die openbare beskermer bevooroordeeld en nie objektief is nie. Dit het alles ’n groot negatiewe uitwerking op haar kantoor wat veronderstel is om onafhanklik, regverdig en met integriteit bedryf te word,” sê Ndevu.

Volgens hom sal die uitspraak ook teen haar tel wanneer die onafhanklike paneel wat deur die parlement in die lewe geroep is, moet bepaal of daar gronde bestaan vir die parlement om met ’n amptelike ondersoek teen haar te begin om haar uit haar amp te verwyder.

Dié paneel, wat bestaan uit regter Bess Nkabinde, afgetrede regter van die konstitusionele hof, adv. Dumisa Ntsebeza SC en adv. Johan de Waal SC, is tans met dié proses besig.

Netwerk24 het vroeër berig die proses sou aanvanklik slegs 30 dae duur, maar dat Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, dit onlangs op versoek van die paneel tot 90 dae verleng het omdat die omvang en getuienis teen Mkhwebane “lywig” is.

Meer oor:  Busiswe Mkhwebane  |  Ob  |  Fopnuus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.