Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB meen Zondo mors belastinggeld as hy aanhou sloer

Die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, meen die Zondo-kommissie loop die gevaar om belastingbetalers se geld te mors as hy aanhou sloer om sy werk af te handel.

Adv. Busisiwe Mkhwebane. Foto: Daily Sun

Mkhwebane het Sondag deur haar woordvoerder, Oupa Segalwe, in ’n verklaring gesê die kommissie het nie die regstellende aanbevelinge van die OB heeltemal reg toegepas nie.

Die Zondo-kommissie is in die lewe geroep nadat Mkhwebane se voorganger, adv. Thuli Madonsela, in haar staatskapingsverslag aanbeveel het dat staatskaping deur ’n kommissie ondersoek moet word. Sy het aanbeveel die kommissie moet sy werk binne 180 dae voltooi.

Die kommissie het reeds in 2018 onder voorsitterskap van adjunk-hoofregter Raymond Zondo met sy sitting begin, maar het meer tyd nodig om sy werk af te handel.

Zondo het onlangs die hooggeregshof in Pretoria genader om vir ’n verdere tien maande uitstel te vra.

Die hof se uitspraak in die saak is nog voorbehou.

Verklaring ingedien

Hoewel Mkhwebane nie Zondo se aansoek teenstaan nie, het sy volgens Segalwe as respondent in die saak ’n verduidelikende verklaring ingedien om die volledige prentjie aan die hof te gee.

Segalwe meen sekere nuusdienste het in berigte oor die aangeleentheid die verkeerde indruk geskep dat Mkhwebane probeer om die kommissie se ondersoek in die wiele te ry.

Volgens die OB kon die kommissie wel sy werk binne 180 dae voltooi het as hy sy ondersoek beperk het tot die kwessies wat in die staatskapingsverslag belig is. Sy meen die kommissie het ook sekere kwessies van voor ondersoek wat eerder deur wetstoepassingsowerhede gedoen kon word.

“Daar moet in gedagte gehou word die groot rede vir die stigting van die kommissie was omdat die OB nie genoeg hulpbronne gehad het om die ondersoek te doen nie.

“Dit sal uiteraard sinloos wees as die ondersoek tot die waarde van honderde miljoene rande, wat reeds ’n paar jaar duur, nie die skade wat die publiek berokken is, regstel nie.”

R1 miljard se belastinggeld

Mkwebane meen as die kommissie nie sy werk in 2020 voltooi nie, sal die oefening belastingbetalers waarskynlik teen daardie stadium R1 miljard uit die sak gejaag het.

“Dit sal selfs erger wees as die publiek van nog miljarde beroof word in die naam daarvan om die beweerde plundery van die staatsbeursie reg te stel,” sê sy.

Mbuyiselo Stemela, woordvoerder van die kommissie, het nie Sondagaand dadelik op navrae reageer nie.

Zondo is gelas om na afloop van die ondersoek sy bevindinge in ’n verslag te vervat wat hy dan aan pres. Cyril Ramaphosa sal oorhandig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.