Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB moet Bosasa-verslag oor Cyril nóú uitreik – Mmusi

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), moet haar verslag oor die omstrede dienstemaatskappy Bosasa se skenking aan pres. Cyril Ramaphosa dadelik bekend maak, het Mmusi Maimane, DA-leier, Maandag gesê.

Hy het reeds aan Mkhwebane geskryf om te versoek dat sy die “volle, ongeredigeerde” verslag binne die volgende 48 uur uitreik.

Adv. Busisiwe MkhwebaneFoto: Morapedi Mashashe

Dit kom nadat die Sunday Independent die naweek berig het dat hulle in besit is van Mkhwebane se voorlopige verslag oor die kwessie.

Mkhwebane het Ramaphosa luidens die berig “skuldig bevind” daaraan dat hy die parlement “onopsetlik mislei het” deurdat hy nagelaat het om ’n skenking van R500 000 van Bosasa te verklaar vir sy veldtog om in 2017 ANC-president te word.

Sy het luidens die berig ook bevind dat Ramaphosa die Grondwet en die etiese kode vir die uitvoerende gesag geskend het en dalk ook by geldwassery betrokke was. Die geldwassery hou daarmee verband dat die skenking van Gavin Watson, uitvoerende hoof van Bosasa, deur middel van verskeie tussengangers gemaak is.

Ramaphosa is glo tien dae gegee om daarop te reageer.

Die OB het egter Sondag geweier om kommentaar te lewer op “die inhoud van enige nuusberig of uitgelekte verslag” wat kwansuis hare is omdat dit haar ondersoek en ook diegene wat ondersoek word, kan benadeel.

Maimane het Maandag gesê hy het die klagte op 23 November 2018 – meer as ses maande gelede – teen Ramaphosa ingedien. Hy het op 9 April vanjaar met Mkhwebane daaroor vergader. Hy wys daarop dat die OB ingevolge wetgewing ’n verslag binne 30 dae aan die klaer moet verskaf.

Ramaphosa het egter tien dae later in brief aan Baleka Mbete, toe speaker van die NV, gesê dat hy 'onopsetlik' die verkeerde inligting aan die parlement gegee het.

“Adv. Mkhwebane se verslag is bykans ses maande laat, wat haar met geen ander keuse laat as om dadelik op te tree en die verslag in die openbare belang bekend te maak nie. As die verslag dadelik uitgereik word, sal daar geen ruimte vir verdere lekkasies of bespiegeling daaroor wees nie en sal dit die publiek en die parlement toelaat om pres. Ramaphosa vir sy optrede aanspreeklik te hou,” lui Maimane se verklaring.

Mkhwebane se ondersoek na Ramaphosa het gevolg op klagtes van die DA en die EFF wat haar versoek het om vas te stel of Ramaphosa die parlement doelbewus mislei het oor die R500 000-skenking van Bosasa en om te bepaal of daar ’n onbehoorlike verhouding tussen hom en Bosasa was.

Dit was nadat Ramaphosa erken het dat sy verkiesingsveldtog onder meer deur Bosasa gefinansier is. Hy het egter gesê die skenking is sonder sy medewete gemaak. Hy was onbewus daarvan totdat hy op 6 November deur Maimane in vraetyd in die Nasionale Vergadering daaroor uitgevra is.

Maimane het Ramaphosa op dié dag gevra of hy bewus is van ’n R500 000-skenking wat Bosasa aan Andile Ramaphosa, sy seun, gemaak het. Ramaphosa het tóé gesê dat Andile konsultasiewerk vir Bosasa doen.

Ramaphosa het egter tien dae later in brief aan Baleka Mbete, toe speaker van die NV, gesê dat hy “onopsetlik” die verkeerde inligting aan die parlement gegee het. Hy het in die brief aangedui dat nadat hy meer inligting ingewin het, hy ingelig is dat die betaling waarna Maimane verwys het, nie verband hou met Andile se kontrak met Bosasa nie, maar dat Watson die betaling in ’n trustrekening gemaak het wat gebruik is om geld in te samel vir sy veldtog om die ANC-president te word.

* Intussen het die Organisasie Teen Belastingmisbruik (Outa) ’n beroep op die parlement gedoen om Mkhwebane se optrede en bevoegdheid vir haar amp te ondersoek. “Duisende” van die organisasie se ondersteuners het ’n versoekskrif in dié verband onderteken. Dit kom nadat die SAKP die naweek sy stem by dié van die DA gevoeg het dat Mkhwebane se gepastheid vir haar amp deur die parlement ondersoek moet word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.